Berig: Adjudantoffisier Jannie Louw
VREDENDAL: Die plaaslike SAPD ondervind tans ‘n ongekende vlaag van diefstal van voertuie. Statistieke dui dat daar vir die 2021/2022 boekjaar slegs een saak vir die diefstal van ‘n voertuig aangemeld is.
Op hierdie stadium is daar alreeds vir die 2022/2023 boekjaar vier sake vir die diefstal van voertuie aangemeld. Wat die getalle uniek maak, is die feit dat slegs een van die sake werklik ‘n diefstal van ‘n voertuig is. Die ander sake is waar die voertuig wel tegnies gesteel is, maar nie verwyder is vanaf die perseel nie.
Hier is tans so ‘n geval in Vredendal. Hier is ‘n groepie jeugdiges wat wissel in getalle van drie tot en met sewe kinders per geleentheid. Hierdie kinders is van ouderdom ses jaar tot en met 14 jaar oud. Wat die groepie laat uitstaan, is dat daar gewoonlik ‘n swart hond saam met hulle is. Daar is ook al gerapporteer dat die hond somtyds aangehits word om mense te byt.
Die groepie het nou al by twee geleenthede besluit om trekker te ry. Tydens beide voorvalle is die gebeure vasgelê op kamera. Een van die aspirant renjaers vat die stuur terwyl die ander moet stoot aan die voertuig. Hulle is nie baie gepla met ‘n sleutel om ver te gaan nie. By die eerste voorval is die trekker gevind waar die grond gelyk geraak het en die trekker te swaar was om te stoot. By ‘n baie bekende besigheid in die middedorp het hulle dan ook een voertuig teen ‘n ander vasgestoot sodat hulle by die gunsteling trekker kon uitkom.
Op die plaas, Sarnia het ‘n groepie kinders, drie by die geleentheid, weer ‘n motorfiets weggestoot. Die motorfiets was parkeer by die woning van die eienaar. Hy het hulle betrap en hulle het toe gevlug sonder die motorfiets.
Die publiek word gemaan om op die uitkyk te wees vir die kinders en wel hul voertuie behoorlik te sluit.