Inwoners van Clanwilliam sit sonder krag vir 36 ure

Berig: Mariaan Smuts

Foto: Gerrit Burger

CEDERBERG: Cederberg se inwoners was die naweek in ‘n benarde posisie nadat hul vir sowat 36 uur sonder enige elektrisiteit was.
Nadat die beurtkrag Vrydag, 3 Maart van 04:00 tot 06:00 verby was, het die krag net nie weer aangekom nie. Die situasie het voortgeduur tot ongeveer 22:00 op Saterdag, 4 Maart. Net sekere dele van Clanwilliam, Graafwater en omliggende plase en Elandsbaai is geaffekteer.
Die skade aan die Eskom Sandberg voerderlyn was groter as wat Eskom aanvanklik geraam het. Die kragvoorsiener moes ‘n kritieke deel van die infrastruktuur, wat nie herstel kon word nie, bekom. Om 14:48 is die boodskap versprei dat Eskom beraam dat dit nog sowat 24 uur sou neem om die skade te herstel. Hierdie elektrisiteitsonderbreking het ‘n direkte impak op water en sanitasiedienste gehad en inwoners is versoek om die dienste spaarsamig te gebruik. Die munisipaliteit het maatreëls in plek gestel om te verseker dat daar genoeg watertoevoer sou wees.
Vrydag omstreeks 16:11 het Eskom die kragtoevoer na Elandsbaai en Graafwater tydelik herstel, maar gesê dat die kragtoevoer na Clanwilliam langer sou duur. Daar is verneem dat sommige landbouprodusente in die omgewing wel krag gehad het, maar besluit het om alles af te skakel aangesien die stroom te swak was en net meer skade kon aanrig.
Saterdag, 4 Maart, tussen 11:00 en 12:00 het Ruben Richards, uitvoerende burgemeester en John Hayes, speaker, die Graafwater substasie, wat die geaffekteerde dorpe bedien, besoek. Met hul aankoms is die twee raadslede deur ene meneer Sheriff, ‘n Eskom amptenaar ontvang. Richards het aan hom en die ander amptenare verduidelik dat die besoek daarop gemik was om te verseker dat die geaffekteerde inwoners die impak van die kragonderbreking verstaan en om die publiek se belange eerste te stel.
Die Eskom span het Sondag, 5 Maart, saam met Hayes, Richards, André Mouton en Joos Engelbrecht by die Lambertsbaai Hotel ontbyt geëet. Hayes sê: “Die grootste pluimpie in ‘n lang tyd het gekom van Eskom personeel.” Hulle sê: “ Ons is so gewoond aan kritiek en afbrekende kommentaar. Ons het nog nooit sulke dankbaarheid en gasvryheid van ‘n gemeenskap ontvang nie.”
Die Eskom span moes nog Sondag twee toetse doen, daarna het hul terugkeer na Brackenfell na twee “kort” nagte se verblyf in Lambertsbaai.

Die Eskom span saam met André Mouton, doktor Ruben Richards, dokter John Hayes en Joos Engelbrecht by Lambertsbaai Hotel.