Berig en foto: Annemarie Munnik
VREDENDAL: Ter viering van Maatskaplike Werkermaand in Maart is Amanda von Czapiewski by Vredendal se Departement Sosiale Ontwikkeling genader om haar ervarings te deel.
Von Czapiewski het op 1 Februarie haar 43ste jaar in die beroep gevier. Sy het oorspronklik drie beroepskeuses teen mekaar opgeweeg: verpleging, onderwys en maatskaplike werk. Sy noem dit is vir haar ‘n beroep wat mens op ‘n lewensavontuur neem. Jy leer verskillende aspekte van menswees. Elke mens is uniek en jy moet eers jouself leer ken voor jy met ander kan werk. Elke persoon wat by hul deur instap, moet anders benader word. Sy het die beroep gekies omdat sy mense wou leer hoe om hulself te help, om selfstandig en onafhanklik te wees. Dit is vir haar die essensie van maatskaplike werk, onafhanklikheid. Von Czapiewski sê sy is net die instrument in God se hand.
In die beroep is daar nooit ‘n vervelige oomblik nie. Jy sien plekke en om-tandighede waarvan sommige nog nooit gehoor het nie. “Dis nie ‘n stagnante beroep nie, daar is gedurig ontwikkeling,” noem sy.
Sy sê een van die slegte dinge is dat jy jouself moet leer om vinnig van emosie te verander. Dit is soms baie moeilik vir maatskaplike werkers wat nuut in die beroep is. Von Czapiewski sê jy moet nie jou kliënte saam huis toe neem nie, anders leer jy nie om af te skakel nie. Sy besoek gereeld die kwekery. Hier sluit sy haar af en mediteer, hier kry sy rustigheid om haar kop skoon te maak.
Von Czapiewski moedig jong mense aan om by maatskaplike werk betrokke te raak, maar sy noem ook dat jy nie met jou eie probleme die beroep moet aanpak nie. “In maatskaplike werk moet jy wegkyk van jouself, jy moet probeer om nie emosioneel betrokke te raak by ‘n saak omdat jy met dieselfde probleem worstel nie.”
Aan die begin van haar loopbaan was verslaafdes vir haar ‘n uitdaging, omdat hulle nie altyd besef hulle het ‘n probleem nie. Sy sê die proses om hulle te help neem dan baie langer.
Von Czapiewski sê dat mishandeling in verskillende vlakke voorkom. Die moeilikste gevalle is emosionele/psigiese mishandeling. Dis nie net vroue en kinders wat daaronder ly nie. Soms word mans ook deur hul vrouens mishandel.
Maatskaplike werkers gaan deur ‘n hele proses om die slagoffers te help om uit die greep van mishandeling te kom, en soms keer die slagoffer weer terug na die situasie.
Een van die kwessies wat gedurig in Matzikama ondervind word, is dat kinders nie mentors het nie. Von Czapiewski noem dat 80% van gevalle het die seuns nie pa’s wat ‘n rolmodel is nie. Die publiek kan help om die kinders onder hul vlerk te neem deur net ‘n positiewe rolmodel te wees.
Neem tydens Maatskaplike Werkermaand tyd om meer te leer oor die positiewe bydraes van die beroep, en leer om maatskaplike werkers te vereer vir die rol wat hul soms agter die skerms in die gemeenskap speel.
Amanda von Czapiewski is al 43 jaar ‘n maatskaplike werker.