Lambertsbaai vier onthou naweek

Berig: Mariaan Smuts

LAMBERTSBAAI: Onlangs is daar groot makietie in Lambertsbaai gehou. ‘n Onthou/Kuierfees naweek is gereël vir alle oudleerders, oudinwoners en persone wat al ‘n geruime tyd in Lambertsbaai woon.
Vrydag, 16 Maart, het die hele span by Malkoppan se karavaanpark bymekaargekom. Sommiges het mekaar tussen 30 en 50 jaar laas gesien.
Saterdag om 11:00 het die groep by die hawe ontmoet. ‘n Blaasorkes het gewyde liedere gespeel. Avril Mocke van die NSRI het die Spirit van St Francis te water gelaat. Twee susters, Brenda en Marieta, het ‘n groot krans wat hulle gemaak het aan die bemanning oorhandig. Die boot het om die lang punt van die hawemuur gevaar waar hul die krans ter see gelaat het. Dit was ter nagedagtenis aan almal wat hulle lewe op die see verloor.
Die Rieldansers van Betjiesfontein het hul daarna op die sand vermaak. Die kinders het na hul optrede van die ooms en tannies genooi om saam met hulle te riel. Dit was groot pret.
Saterdagaand het die groep by Panorama Park ‘n ete en dans geniet. Pieter le Roux en sy span het musiek gemaak.
Sondagoggend tydens die erediens het dominee Karla Smit, ‘n baie treffende boodskap gelewer oor die vissers wie se net so swaar was dat hul dit nie kon optrek in die boot nie.
Die komitee kom oor ‘n paar weke bymekaar om nabetragting te hou en te besluit hoe hul dit vorentoe gaan hanteer. Al die geld wat hul oor die naweek ingesamel het, gaan teruggeploeg word in die dorp. Die besighede en instansies wat donasies gaan ontvang, is klaar geïdentifiseer.