Berig: Darren Goliath Foto: Verskaf
KLAWER: Doktor Uwarren September (35) het op 27 Maart sy doktorsgraad in maatskaplike werk aan die Stellenbosch Universiteit verwerf.
Doktor September en sy oudste broer Shawn, het by hul ouma Helena of Kitty soos almal haar geken het, in Klawer gebly. Die omstandighede was nie altyd maklik nie. “Ek het swaar grootgeword en kon sien hoe my ouma finansieel sukkel. Sy was ‘n plaaswerker.” September se pa, Stephanus Boks of meer bekend as Uncle Boetie is tans woonagtig in Klawer en hy kuier gereeld vakansies by hom.
Doktor September het sy laerskoolloopbaan in Klawer voltooi en in 2005 gematrikuleer aan Vredendal Sekondêre Skool. Sy ouma het dieselfde jaar 60 geraak en besluit om af te tree. Hy het in 2006 vir ‘n jaar by Wimpy in Klawer, as kelner en kassier gewerk om na sy ouma om te sien en te spaar vir tersiêre opleiding. “Ek kon nie direk na skool gaan studeer nie as gevolg van omstandighede”, sê September. Hy sê dat hy vir sy ouma wou wys dat hy iets van sy lewe wil maak. Sy ouma is in Julie 2021 oorlede.
Doktor September het sy baccalaureus graad in maatskaplike werk vanaf 2007 by Hugenote Kollege in affiliasie met Unisa gedoen. Hy het sy Baccalaureus in 2011 verwerf. Daarna het hy sy meestersgraad vanaf 2014 tot 2015 in maatskaplike werk aan die Universiteit van Wes-Kaapland voltooi met die fokus op “The experience of families caring for female patients with comorbid diagnosis of bipolur and substance abuse within a psychiatric hospital in the Western Cape.” Hy het sy meestersgraad in 2015 verwerf. In 2019 begin hy met sy doktorale studie in maatskaplike werk aan Stellenbosch Universiteit en baseer sy studies op “social work services to families caring for an adult relative with a mental illness.”
September sê dat sy laaste gradeplegtigheid baie emosioneel was en dat hy die voorreg gehad het om sy ouma by sy vorige gradeplegtigheid te hê. Doktor September vertel dat sy keer op keer vir hom gesê het : “As jy eendag ‘n dokter is, moet jy my knieë opereer” en na vele probeerslae om haar te verduidelik wat hy studeer, het hy opgegee en haar maar net gelos met die gedagte dat hy ‘n dokter gaan wees. Hy kan met tevredenheid sê dat hy gelukkig is omdat hy sy ouma kon trots maak en dat sy weet hy is selfstandig en onafhanklik.
September sê dat sy navorsing ‘n persoonlike element bevat wat hom baie na aan sy hart lê. Hy het grootgeword in ‘n omgewing waar dwelms en alkohol algemeen voorkom en het die behoefte gesien aan maatskaplike dienslewering en hulpbronne in gemeenskappe. Weens ‘n geweldige toename in geestesiektes en die aantal gesinne wat sodanige probleme aanmeld, word die vraag na, en noodsaaklikheid van die lewering van maatskaplikewerksdienste aan gesinne wat na ‘n volwasse familielid moet omsien, beklemtoon. Hy sê ook dat Hugenote Kollege grotendeels bygedra het dat hy maatskaplikewerk studente kan oplei. September beoog om sy navorsing in maatskaplikewerk, dienslewering aan families wat vir ‘n familielid met ‘n geestesongesteldheid moet sorg, voortsit. Een van September se toekomsplanne is ook om ‘n senior dosent te word. Hy sê: “Wie weet, dalk ‘n professor as dit in die Meester se plan is.”
Doktor September is tans ‘n dosent, by die gemeenskaps- en gesondheids fakuliteit, aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
Doktor Uwarren September in die middel saam met sy ma, Helena Wingrove en boetie, Sharlton Wingrove.