Hoërskool Vanrhynsdorp verwelkom nuwe skoolhoof

Berig: Annemarie Munnik Foto: Verskaf

VANRHYNSDORP: John Reyneke is onlangs as Hoërskool Vanrhynsdorp se nuwe skoolhoof aangestel en het klaar opspraak in die gemeenskap gemaak. Dit nadat hy uitgereik het na die breër gemeenskap vir skenkings vir dié skool.
Reyneke het grootgeword in Excelsior, in die Vrystaatse platteland. Hy noem dat hy gedurende sy graad 10 jaar die manspersoneel bewonder het en besef het dit is wat hy wil doen. “Die positiewe invloed en al die ekstras wat hulle vir ons as plattelandse kinders gedoen het, was net ‘n ongelooflike voorbeeld en droom om na te streef,” noem hy.
Hy en sy vrou Louise, ‘n onderwyser by Steilhoogte Primêr was nog altyd lief vir die platteland. Hulle het ‘n seun, Dillin (24) en ‘n dogter, Simone (12).
Hy ontvang sy Diploma in Onderwys in 1991 aan die Onderwyskollege in Bloemfontein. Hy verwerf ook later sy Gevorderde Diploma in Onderwys, asook in Sportontwikkeling en Afrigting. Reyneke is ‘n man van vele talente. Hy is ook ‘n gekwalifiseerde toergids en operateur en was ook die eienaar van Golfdivine SA Tours.
In 2007 word hy aangestel as senior adjunkhoof by Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier en dien as skoolhoof van 2012 tot 2013. Reyneke was ook skoolhoof by Hoopstad Gekombineerde Skool en Hendrik Louw Primêr in die Strand.
Reyneke kan rugby, atletiek en gholf afrig. Hy is ook ‘n betrokke gemeenskapslid wat al in die verlede by verskeie klubs en organisasies betrokke was om ‘n bydrae tot die gemeenskap te lewer.
Hy glo aan die ontwikkeling van die kind in totaliteit.
Sy visie vir Hoërskool Vanrhynsdorp is om vir die leerders dieselfde en nog beter geleenthede te bied op akademiese-, sport- en kultuurgebied, as wat die sogenaamde topskole het.

John Reyneke, Hoërskool Vanrhynsdorp se nuwe skoolfoof.