Berig: Mariaan Smuts
CLANWILLIAM: Doringbos het Saterdag, 6 Mei hul tweede baie suksesvolle funduro op die plaas Doringbos, sowat 60 km buite Clanwilliam aangebied. Die hoof organiseerders, Adriaan Farmer en Burger Geustyn sê daar was dié jaar ‘n aansienlike groei van meer as 22 motorfietse wat die totaal op 62 inskrywings te staan gebring het.
Farmer was weer verantwoordelik vir die uitleg van die verskillende roetes op bestaande plaaspaaie terwyl Geustyn met sy kop vir rekenaars die roetes karteer en ook die fotograaf vir die dag was.
Deelnemers kon in 4 verskillende afstande meeding, ‘n 4.3km, 14km, 15km en 30km. Vier afdelings was beskikbaar; ‘n gevorderde roete vir die meer ervare ryers, ‘n intermediêre roete, ‘n MX roete en ‘n Peewee roete vir die kleiner deelnemertjies.
Registrasie het om 07:00 plaasgevind waarna daar ‘n inligtingsessie om 09:30 was. Die roetes en reëls is verduidelik. Veiligheid is ten alle tye eerste gestel. Die bane het om 10:00 geopen en 15:00 gesluit. Gelukkige trekkings is gehou en daar was baie pryse op die spel.
Farmer het ook gereël met die nooddienste om teenwoordig te wees. Daar was blykbaar ‘n ongeluk wat die nooddienste baie professioneel en flink hanteer het. Die organiseerders bedank ook elke deelnemer vir sy/haar ondersteuning. Hulle het ook nie van hul borge vergeet nie en sê sonder elkeen se ondersteuning sou hulle nie so ‘n suksesvolle dag kon aanbied nie.
Daar is weer besluit om ‘n bedrag aan die La Montenara Onderwyssentrum te skenk. Die skool se personeel het gehelp met die verkoop van verversings. Die projek word jaarliks aangepak om geld vir die skool in te samel. Elkeen wat in die projek belê het, het ook belê in die kinders se onderrig.
Farmer sê dit was ‘n heerlike familiedag. Hulle is trots op dit wat hul dié dag vermag het. Hy sê dit was “amazing” en groot pret. Almal het baie lekker gekuier en die deelnemers se terugvoering was positief.
Geuysten bedank alle “bikers” en nooi hulle uit om aan te sluit by die biker-familie. Hulle dra ook hul dank oor aan Louwtjie Hanekom, eienaar van Doringbos, vir sy bereidwilligheid en ondersteuning om die geleentheid op die plaas aan te bied.