Elke tree tot sy eer

Berig: Emma Boonzaier

MATZIKAMA: Vir vanjaar se Radio Namakwaland Teleton het twee vriendinne besluit dat hulle die ekstra myl wil loop om dié fondsinsameling te ondersteun. Elizabeth Coertzen en Sanet Calitz begin Saterdag, 29 Julie met ‘n drafroete van 280km wat hulle oor 8 dae gaan aflê.
Hulle het mekaar leer ken deur Namaqua Atletiekklub waar beide as lede aangesluit het in 2018.
Die grootste motivering om die uitdagende ekspidisie aan te pak, is om die radiostasie te help fondse insamel
“Ons het een Saterdagoggend saam gaan draf en Sanet het my vertel dat sy al lankal iets wou doen vir die stasie om saam met die Teleton te val en sy wil by my hoor of ek ook sal wil. Haar vraag was nog nie eens voltooi, toe sê ek halsoorkop “JA!” Dis my deel wat ek wil doen vir ons gemeenskap,” sê Coertzen. Die ander motivering is bepaal deur die atlete se geloof.
“Ek wil getuie wees, vir die gawe wat God my gegee het, dit kan uitleef op dié manier,” sê Calitz.
Coertzen het haar liefde vir draf in 2017 gevind. “Ek het begin draf nadat ek ophou rook het. Ek kan onthou ek het my eerste 5km gedoen toe die Parkrun geopen het in Oktober 2017. Daardie dag het dit gevoel asof ek my longe daar tussen die wingerde verloor het. Alles het gebrand, maar ek het net nooit weer opgehou draf nie. Ek was op skool laas ‘n atleet, so daardie 5km het soos 100km gevoel. Die vryheid wat jy voel as jy net kan hardloop en om deel te wees van die natuur. Dit is iets waarsonder ek nie kan klaar kom nie. My grootste motivering is dat ek dit vir myself doen en sodoende n gesonde en fikse lewenstyl handhaaf,” sê sy.
Die twee ystervroue het reeds vanjaar ‘n paar wedlope agter die rug, onder andere Two Oceans Marathon (56km) en die Comrades Marathon (89km). Hulle beskou hierdie geleenthede as hul voorbereiding vir die 280 km wat voorlê.
Die weer mag dalk ‘n uitdaging wees. Veral die eerste 5km wat in die yskoue oggende afgelê moet word. As dit dalk reën of winderig is, mag dit dalk ook ‘n impak hê, maar Coertzen is positief: “Ons vat dit soos dit kom.”
Die dames begin Saterdag, 29 Julie in Vredendal en vertrek na Vanrhynsdorp, Sondag na Klawer, Maandag na Clanwilliam, Dinsdag na Graafwater, Woensdag na Lambertsbaai, Donderdag na Strandfontein, Vrydag na Lutzville en Saterdag voltooi hulle die roete in Vredendal.
“Kyk uit vir ons en blaas die toeter, dit sal ons motiveer om te weet mense is bewus van ons,” sê Calitz.
Donasies kan gemaak word tydens Teleton. Radio Namakwaland gaan ‘n stelsel skep waar die luisteraars donasies kan maak. Hulle kan dit doen deur te bel tydens Teleton na 027 213 4208 of ‘n WhatsAppboodskap stuur na 079 350 7339. Daar sal ook ‘n skakel wees op Radio Namakwaland se webtuiste wat gevolg kan word.

Sanet Calitz en Elizabeth Coertzen gaan ‘n drafroete van 280km oor 8 dae aflê. Foto: Verskaf