Hoof wil op busdak kamp

Berig: Annemarie Munnik

VANRHYNSDORP: Na Hoërskool Vanrhynsdorp se wegholsukses met die vorige uitreik na die gemeenskap beplan hul om dit dié keer nog groter te doen.
John Reyneke, skoolhoof, het saam met sy personeel nog ‘n fondsinsamelingsprojek van stapel gestuur ten bate van ‘n nuwe bus vir die skool.
Die skool het 554 leerders wat vervoer moet word na sport- en kultuuraktiwiteite. Tans het die skool slegs een bus, ‘n 1982 Mercedes as vervoermiddel. Daar is slegs 60 sitplekke op die bus. Reyneke sê daar is niks fout met die bus nie. As verskeie spanne aan aktiwiteite moet deelneem, moet sommige leerders, ‘n gemiddeld van drie spanne van privaat vervoer gebruik maak. Reyneke noem dat die ouers dit nie kan bekostig nie. Daar is ouers wat nie eers ‘n voertuig van hul eie het nie. “Elke kind verdien ‘n regverdige geleentheid om deel te neem.” Soms moet net 12 leerders vervoer word en dan is die bus te groot, daarom het hul ‘n kleiner bus nodig, van 22 of 25 sitplekke.
Dis waarom die skool die busprojek begin het. Hul beoog om 1000 weldoeners te kry in die volgende 6 maande om elk R250 te skenk. Met die fondse kan hul nog ‘n bussie aankoop vir sport, kultuur en akademiese aktiwiteite.
Die bestaande Mercedes bus is tans met blommetjies verfraai. Dit gaan tydens blomseisoen van Vrydae tot Sondae by ‘n bekende vulstasie in Vanrhynsdorp staan om bewusmaking te doen. Verder gaan daar ook pamflette aan motoriste uitgedeel word. Hulle wil graag die blommekykers hiermee bereik, omdat daar nie geld in die gemeenskap is nie. Die skool gaan ‘n banier by die twee ingange van Vanrhynsdorp opsit.
Reyneke beplan om tussen 11 en 13 Augustus in ‘n tweemantent op die bus se dak te kamp om verdere bewusmaking te doen. Hy noem dat hy en ‘n kollega op ‘n ander geleentheid 100km gestap het om fondse in te samel. Hy het ook al met ‘n poegie vanaf die stad tot in Namibië gery vir fondse, ook vir ‘n busprojek.
Persone wat graag aan hierdie grootse projek ‘n skenking wil maak, kan gerus die skool kontak by 027 219 1010 of Reyneke by 084 559 3159.
Die bankbesonderhede is: ABSA tjekrekening, rekeninghouernaam- Skoolfonds Vanrhynsdorp, rekeningnommer- 4049 189 859, takkode- 504 906, verwysing- Busprojek.