Berig en Foto: Mariaan Smuts
CLANWILLIAM: Heleene Schreuder (neè Steenkamp) is op 29 Oktober 1985 in Springbok gebore; die jongste van vyf susters. Alhoewel haar laerskoolloopbaan strek van die Noord-Kaap, Vrystaat tot die Boland, matrikuleer sy in 2003 aan Hoërskool Upington. Na skool besluit sy om ‘n “gap” jaar te neem, en gaan verken Engeland, waar sy in Cornwall in die gasvryheidsbedryf werk.
In 2005 begin sy haar studies aan die Universiteit van Stellenbosch in LLB Regte. Sy doen haar klerkskap in Malmesbury. Daar het sy in die litigasie departement gewerk en gemengde siviele en kriminele hofsake hanteer.
Sy word as mededirekteur van Terblanche Slabber Pieters Prokureurs in 2012 aangestel. In die amp spesialiseer sy in die krediet herstrukturering, munisipale wetstoepassing en hanteer ook ‘n wye spektrum van familiesake.
Sy trou in 2017 met Werner Schreuder, ‘n boorling van Clanwilliam, wat dan ook haar nuwe tuiste word. Sy sluit aan as vennoot by Grant Spammer Prokureurs in Clanwilliam. By Spammer geniet sy alle aspekte van die reg, werk met die publiek en hanteer algemene praktyksake wat strek van boedeladministrasie tot sekwestrasie.
Schreuder is ‘n ma van ‘n 2½ jarige dogtertjie en ‘n 1½ jarige seuntjie. Alhoewel hulle op ‘n besige ouderdom is en haar op haar tone hou, is dié twee haar waardevolste “kliënte”.
Een van haar tydverdrywe is om fiks en aktief te bly. Sy was van jongs af òf op die tennis-, muurbalbaan òf langs die swembad. Schreuder het in haar vroeë twintigs ‘n liefde vir draf ontwikkel, en het sedertdien 30 marathons en 3 agtereenvolgende Comrades wedlope voltooi. Sy geniet ook gholf en speel gereeld by die Clanwilliam Gholfklub waar sy ‘n lid is. Sy is ook deel van ‘n Boland/Wynland Vroueliga span wat deur die jaar regoor die Wynlande teen mekaar meeding.
Schreuder geniet toer en reis en het in 2011 en 2015 die Springbok rugbyspan tydens die wêreldbeker gaan ondersteun. Alhoewel sy baie rondrits, bly ‘n lekker glasie rooiwyn en ‘n braaivuurtjie by die huis saam met haar familie steeds die beste.
Schreuder is opgewonde en verduidelik dat om vrou te wees in vandag se tyd ‘n voorreg is. “Alhoewel vrouwees in die regsbedryf met sy uitdagings kom, moet ons die geleenthede en die talente wat ons gekry het benut en nooit terugstaan vir enige uitdaging nie. Die grootste bate as vrou is die vermoë om te “multitask” en nooit vergeet dat ons niks kan doen sonder die Here se genade nie. Ons vrouens moet mekaar ondersteun, motiveer en begrip hê vir hoe uniek elke vrou se paadjie is,” sê sy.
Heleene Schreuder.