Haar beroep stimulerend

Berig:Darren Goliath Foto:Verskaf

VREDENDAL: Isabelle Jacobs-Lans (foto bo), is sedert 1996 by Koos Coetzee Prokureurs werksaam. Jacobs-Lans het die grootste deel van haar skoolloopbaan in Williston, in die Noord-Kaap deurgebring waar sy ook gematrikuleer het. Sy sê omdat die skool so klein was, het sy aan alles deelgeneem en het selfs in netbal en atletiek op provinsiale vlak presteer.
Teen die tyd dat sy ‘n beroep moes kies, was sy onseker. Haar pa het voorgestel dat sy BCom Regte moet studeer aangesien die graad, geleenthede in ‘n hele aantal beroepe kan bied. Tydens haar studies het sy ‘n belangstelling in die prokureurspraktyk ontwikkel. Sy verwerf ‘n BCom Regte graad in 1993 aan Universiteit Stellenbosch, en voltooi ook haar LLB-graad in 1995. Erfreg, handelsreg en kontraktereg was van haar gunsteling vakke op universiteit. Sy sê dat Latyns destyds nog verpligtend was en dat dit haar glad nie gefassineerd het nie, alhoewel sy besef het dat dit ‘n invloedryke bousteen van die regstelsel is.
Wat uitdagings as ‘n vrou in die regswêreld betref: Jacobs-Lans vertel dat sy in 1996 aansoek vir ‘n klerkskappos gedoen het by ‘n prokureursfirma in die Wes-Kaap en tydens haar onderhoud het die prokureur haar meegedeel dat hy nie dink die platteland is gereed vir ‘n vroue prokureur nie. Koos Coetzee het egter nie dieselfde standpunt gehuldig nie. Sy het toe haar klerkskap by dié praktyk begin. “Ek het ondervind dat ouer mense aanvanklik effens teësinnig was om ‘n vroue prokureur te gebruik, maar die situasie het definitief verander,” sê Jacobs-Lans. Volgens die Legal Practice Council was daar in 2022 ongeveer 30 000 prokureurs in Suid-Afrika, waarvan 42% van die prokureurs, vrouens is. Sy sê ook dat sy tans nie groter uitdagings ervaar as mans in die regspraktyke nie.
Sy het skoolgaande kinders en haar vrye tyd is dus beperk, maar sy sê dis ‘n groot voorreg om saam het haar kinders hul skoolaktiwiteite by te woon en as sy en haar familie nie langs die sportveld staan nie, hou hulle daarvan om te gaan kamp en gesellig met vriende sosiaal te verkeer.
“Die prokureursberoep is baie stimulerend, interessant en is nie altyd dieselfde nie,” sê sy. ‘n Mens ontmoet mense uit alle fasette van die samelewing en beleef verskeie situasies. Die beroep het verskeie vertakkings en as jy in die regte belangstel, sal jy wel ‘n rigting vind waarin jy jouself sal kan vestig. Sy raai jong vroue aan om regte te studeer indien hulle ‘n belangstelling daarin toon.

Isabelle Jacobs-Lans.