‘n Span wat vir geregtigheid veg

Berig: Annemarie Munnik Foto: Verskaf

VREDENDAL: Ter viering van Vrouemaand het Ons Kontrei met Adéle de Vries, Erica van der Merwe en Renate van der Merwe by Gustav de Vries Prokureurs gesels.
Adéle is oorspronklik van die Strand, waar sy haar skoolloopbaan voltooi het. Daarna is sy technikon toe. Na haar en Gustav se troue, het sy Vredendal toe getrek. Aanvanklik, met die stigting van die firma in 2015, was sy betrokke as ontvangsdame en kantoorbestuurder. Sy verwerf haar LLB graad in 2019 en is in 2021 toegelaat as prokureur. Sy praktiseer in familiereg en algemene siviele litigasie. Sy hanteer ook die firma se finansies.
Erica woon sedert 1991 in Vredendal. Sy het in 2018 by die firma aangesluit as kandidaat prokureur en het haar LLB graad in 2019 bekom, waarna sy in 2021 toegelaat is as prokureur. Erica praktiseer in algemene litigasie en strafwerk.
Renate is oorspronklik van die Noord-Kaap. Sy is in Kahtu gebore en het daar grootgeword. Gedurende 2012 het sy haar LLB graad ontvang en is dieselfde jaar as prokureur toegelaat. Sy het voorheen as ‘n direkteur by ‘n firma in Kuruman gepraktiseer waarna sy in 2020 by Gustav de Vries Prokureurs aangesluit het. Renate spesialiseer in testamente, boedels en arbeidsreg. Sy is ook die firma se aktebesorger.
Al drie het hul graad deur UNISA ontvang, terwyl hulle gewerk het en verantwoordelik was vir ‘n huishouding met kinders. Renate lag as sy vertel sy was ver swanger met haar toelating by die hof. Adéle sê dit het harde werk en baie opoffering gekos om te wees waar hul vandag is. Hulle het later in hul lewe eers die graad oorweeg en aangedurf.
Adéle sê sy het by ‘n prokureurspraktyk gewerk en besef sy hou van die administratiewe gedeelte van die werk. Sy het ook besef sy wil nie die heeltyd net die sekretaresse wees nie. En vir haar is dit lekker om saam met haar man te werk, alhoewel sy dit baie hoor dat nie almal saam met hulle mans kan werk nie.
Erica sê ouderdom is geen verskoning om nie ‘n nuwe uitdaging aan te pak nie. Sy was 40 toe sy haar graad ontvang het. Voor dit was sy ‘n verkoopspersoon, wat redelik verskil van dit wat sy nou doen.
Erica voel haar sterkpunte is dat sy nie so emosioneel betrokke raak by ‘n saak nie, sy kan van buite af inkyk op ‘n saak.
Adéle glimlag as sy vertel sy raak soms meer emosioneel betrokke en sy probeer oplossings vind wat vir al die partye werk. Renate sê hul moet baie geduld hê en rustig bly en sommige sake is ‘n sielkundige uitdaging. Hul wil tog vir die kliënt ‘n goeie resultaat lewer.
Renate vertel sy was baie kleiner as die ander kinders op skool, so die saadjie is vroeg geplant. Van kleins af wou sy al vir geregtigheid staan, “veg vir dit wat reg is.” Sy het daaraan gedink om ‘n prokureur te word, maar soos sy ouer geword het, het sy weer daarvan vergeet. Toe die geleentheid egter oor haar pad kom, het sy gegaan daarvoor. Sy wou eintlik ook in die hof geveg het vir geregtigheid: nou is sy meer in die kantoor, maar sy geniet dit.
Erica sê dit is belangrik om werk en persoonlike lewe te skei, middae as jy by die kantoor uitstap moet jy kan afsluit en met jou familie wees. Renate sê “jy as ‘n vrou het baie rolle om te vertolk. As ek in die kantoor is het ek my prokureur mantel aan en fokus ek op my werk. By die huis het ek weer my mamma mantel aan, dan fokus ek op die kinders en die huis.” Adéle sê hul het hul kantoorure aangepas om die mamma’s in die kantoor te akkommodeer en sluit om 16:00. Sy voel die ekstra uur help hul om hul loopbaan en persoonlike lewe te balanseer. Sy dink ook dis baie belangrik om gebalanseerd te bly, omdat mens met so baie persoonlike inligting te doen kry in sake, so help dit dan om nie die “werk” huis toe te vat nie. Adéle is ook baie sportief; sy sal voor of na werk iets doen om aktief te bly. So verwerk sy stres en die dinge wat in haar kop maal.
Stokperdjies? Erica speel en rig netbal af in haar vrye tyd. Renate draf graag in die somer. Adéle draf en is baie betrokke by die Vredendal parkrun, sy speel ook pluimbal en gholf. Renate hou ook van kreatief wees, soos diamond dotting en verf. Sy sê dan sluit jy af en fokus op iets anders. Adéle sê die werk is soms baie intensief, partykeer wil ek net iets doen wat my brein bietjie laat afskakel.”
Hul raad aan jongmense wat dit oorweeg? Adéle sê sy voel dis moeilik om dadelik al na skool te weet wat jy wil doen. Sy sal aanbeveel dat mens so veel as moontlik in hoërskool verskeie beroepe moet “shadow” en jouself moet vergewis van wat die wêreld bied. Kyk eers wat daar van jou verwag word in die regte. Prokureur op televisie en in realiteit verskil hemelsbreed. In Suid-Afrika is daar ‘n heel ander konsep as wat gewoonlik op televisie uitgebeeld word.
“As jy ‘n prokureur wil wees omdat dit vir jou “cool” lyk, don’t do it,” sê Renate. Erica sê haar raad aan jong mense is dat hul nooit moet dink hul is nie goed of slim genoeg om regte te studeer nie. “Dis net harde werk en ‘n groot volume leerwerk, maar dis nie so onmoontlik nie. As jy die deursettingsvermoë het om die ure in te sit, sal jy dit kan doen.” Adéle sê ook jong mense moet besef dat jy vier jaar aan ‘n universiteit moet studeer om ‘n prokureur te word. Daarna vereis die Wetsgenootskap dat jy nog twee jaar moet prakties aflê by ‘n ervare prokureur voor jou kwalifikasie klaar is.
Soms is die werk “rewarding” en ander dae is die werk uitdagend en “spook” dit by ‘n mens. Daar is sommige sake wat lank by hul agterbly, omdat hul soms die persone ken. Renate sê jy raak soms emosioneel saam met jou kliënte, veral as ongeregtigheid beveg moet word. Dan, as jy die oorwinning kry, is jy saam met die kliënt bly as geregtigheid geskied. So geniet hulle elkeen verskillende sake en veg saam as span dat geregtigheid op die einde van die dag geskiet.

Adéle de Vries, Erica van der Merwe en Renate van der Merwe.