Berig en foto: Mariaan Smuts
CLANWILLIAM: Kay Toerien Steenkamp is op 24 Julie 1967 te Porterville gebore en matrikuleer in 1985 aan Hoërskool Clanwilliam.
In 1986 gaan studeer sy BA.Ed Tale met Afrikaans Nederlands, Literatuur Wetenskap en Frans as hoofvakke. In 1987 verander sy van studierigting en behaal haar graad in Baccalaureus Artium in Kommunikasiekunde.
Na universiteit tree sy in die huwelik en die egpaar gaan woon op haar skoonouers se plaas in die Karoo.
Hulle keer terug na Clanwilliam in 1995 met hul twee kinders Uys, nou 32, en Alica nou 27.
Steenkamp wou altyd verder studeer en het aanvanklik besluit om haar derdejaar in Sielkunde te voltooi. Sy kry egter werk as boekhouer by Spammer-Erasmus Prokureurs en skryf haar in vir B.Com met Spesialisering in Regte aan die Universiteit van Suid-Afrika. Sy verwerf haar graad in 2006. Hierna skryf sy haar in vir die graad Bachelors of Law en verwerf dié graad in 2008 aan die Universiteit van Suid-Afrika en word sy in 2009 toegelaat as prokureur in die hooggeregshof Kaapstad. Sy is reeds sedert 2006 verbonde aan Erasmus & Associates Prokureurs.
Hierna voltooi sy ook haar Akte besorger en Notariële eksamens en word in Maart 2019 toegelaat as Akte besorger en Notaris.
Steenkamp sê plattelandse prokureurs moet kennis hê in alle velde van die reg, maar sy hanteer meestal oordragte, verbande, boedels en litigasie. Sy sê verder dat prokureurs baie keer moet optree as berader, mediator, sielkundige en maatskaplike werker.
Steenkamp het nog altyd ‘n passie vir tale en regte gehad. As kind het sy en haar suster die aktuele stories en moordverhale in die Huisgenoot gelees en dan probeer om die saak op te los. Sy het as kind reeds onreg gehaat en het gevoel wat goed is vir die een kind of mens, moet ook goed wees vir die ander. Onregverdige behandeling van arm teenoor ryk het haar baie gepla en selfs een keer in die moeilikheid laat beland by ‘n onderwyser.
Steenkamp sê sy is mal daaroor om rose te kweek, in haar tuin te werk en stap graag vir oefening. In haar vryetyd skerp sy graag haar Frans deur Duolingo op.
Kay Toerien Steenkamp.