Berig en Foto: Annemarie Munnik
VREDENDAL: Ter viering van Vrouemaand het Ons Kontrei met drie vroue in die regsbedryf by Human Van der Merwe Incorporate gaan gesels. Santie Human, Bianca Adriaanse en Lenice Cloete is deel van die vrouespan met wie ons gesels het.
Lenice is oorspronklik van Komaggas. Sy het haar hoërskoolloopbaan in Springbok voltooi. Daarna het sy in Durbanville studeer: Besigheidsbestuur en daarna haar LLB graad. Sy het 7 jaar daar gewoon voor sy twee jaar gelede na Vredendal gekom het om haar klerkskap te doen.
Santie was vir sewe jaar ‘n landdros in Paarl. Sy het in 1999 bedank en haar prokureurseksamen afgelê. Sy het as prokureur haar praktyk in Clanwilliam begin, en in 2004 na Vredendal geskuif.
Bianca het in Vredendal grootgeword en skoolgegaan, en na skool het sy aan die Noordwes Universiteit studeer. In 2020 het sy by Santie haar klerkskap begin en voltooi tot sy aan die begin van 2023 as prokureur toegelaat is. Sy is met ‘n plaaslike landbouprodusent getroud en hul verwag hul eersteling, ‘n seuntjie. Santie vertel dat hulle “vrugbare” kantore het, want almal wat in dié een spesifieke kantoor werk, word swanger.
Die drie het besluit om prokureurs te word omdat hul daarvan hou om mense te help. Lenice sê sy hou daarvan om mense te help om hul probleme op te los. Bianca het van ‘n jong ouderdom af geweet dat sy een wil word. “Jy sien iemand kry swaar en niemand staan op vir hulle nie, want hulle het nie noodwendig ‘n stem om dit self te doen nie. Jy help hulle, omdat jy saam met hulle baklei, nie noodwendig teen iemand nie,” aldus Bianca. “Jy is die stem vir die sagte ou,” voeg Santie by. ‘n Persoon verdien om menswaardig behandel te word, al is hy skuldig aan iets.
Santie het al in graad 3 vlot gelees en sy was gaande daaroor om hofsake in die koerante te lees. Dit was vir haar verskriklik om te sien hoe sommige persone dieselfde misdaad pleeg, maar nie dieselfde straf opgelê word nie. Byvoorbeeld die man kry die doodstraf, maar die vrou nie. “Die onregverdigheid het haar laat voel sy wil mense help. Ek is nie vir die doodstraf nie,” voeg sy by.
Santie hou van enige saak, sy het nie ‘n voorkeur nie. Dit gaan vir haar oor die mens, nie oor wat hy gedoen het nie. Sy oordeel die mens glad nie. Jy leer die persoon voor die tyd ken en soek binne die persoon die goeie in hom of haar. Sy sê hul Christenskap maak dat hul die ekstra myl vir persone sal loop, al het hy ‘n erge misdaad gepleeg. “Die Here het nie slegte mense gemaak nie, die persoon het net ‘n slegte daad gedoen.” Lenice sê sy hou van kriminele sake, veral die stories agter die saak en om met die mense te werk. Bianca is weer die teenoorgestelde, sy hou meer van siviele sake.
Hoe sluit hulle af en neem nie die werk saam huis toe nie? Die drie bars gelyktydig uit van die lag. Dit is maar moeilik. Bianca het ‘n punt daarvan gemaak dat sy probeer om nie werk huis toe te neem nie, maar as sy dit wel doen, maak sy seker dat dit nie inmeng met haar gesinslewe nie. Sy verkies om eerder later op kantoor te bly ter voorbereiding as om werk huis toe te neem sodat sy kan afskakel wanneer sy huis toe gaan. Daar is egter altyd uitsonderings waar jy wel werk huis toe sal neem, byvoorbeeld gekompliseerde sake.
Lenice lag en sê sy het nog nie die antwoord op die vraag nie. Sy sê daar is soms so baie wat gedoen moet word in terme van voorbereiding vir sake en hofdae ensovoorts. “Daarom moet jy jou werk huis toe neem.” Santie sê sy vat maar nog altyd werk huis toe, “jy moet voorberei vir howe, jy kan nie onvoorbereid instap nie. Jy moet die saak beter ken as die kliënt!” Sy het “me time” van 18:00 tot 20:00. Daarna begin die voorbereiding vir die volgende dag. In die bietjie vrye tyd wat hul het, lees Santie graag ook hofverslae. Sy verslind ook al wat ‘n nuusbrokkie is, “ek is nuus mal,” lag sy. Sy sosialiseer op sosiale media. Sy glimlag ook skalks dat sy graag videospeletjies speel en die Superbru rugby en F1 uitslae raai.
Hulle raad vir jong mense wat die beroep oorweeg? Lenice skaterlag toe Santie prontuit sê: “moet dit nie doen nie. Dit is glad nie soos op televisie nie.” Santie sê al laat Bianca dit maklik klink om ‘n persoonlike- en beroepslewe te hê, is dit nie so maklik nie. “As jy ‘n privaatlewe wil hê en die deur sesuur wil toemaak as jy uitstap, moenie ‘n prokureur word nie. Dit moet ‘n hartsbesluit wees.” Lenice sê jy moet sterk wees, jou persoonlikheid, asook jou emosionele welstand. Daar is volgens Bianca baie uitdagings.
Santie vertel sy ervaar nie dat daar plaaslik teen vroue prokureurs gediskrimineer word nie. Daar is ‘n geweldige klomp vrouens in die regsberoep, hulle is amper die meerderheid in die plaaslike howe. Santie sê sy dink vroue doen baie goed in regte. Bianca sluit aan by die stelling omdat vroue baie deeglik is, sy voeg by dat jonger prokureurs soms onderskat word – veral as hulle teen meer ervare persone te staan kom. In die Reg is daar nie een vervelige dag nie. Daar is vele uitdagings en soms is dit chaoties, “maar dis lekker chaos,” vertel Bianca.
Lenice word deur haar vriende beskryf as “modist” en Santie se vriende beskryf haar as iemand “wat almal wil red.” Bianca is ‘n “straight shooter” en haar vriende weet waar hulle met haar staan.
Laastens, wat is jou sterkpunte? “Ek bang niemand nie,” lag Santie. Bianca sê sy is baie dinge, maar skaam is nie een van hulle nie, want jy kan nie skaam wees in die beroep nie. Santie sê Lenice het nie ‘n bang haar op haar kop nie, sy is baie dapper.
Elke dag is gelaai met nuwe uitdagings wat die vroue elkeen op hul eie manier aanpak, met geregtigheid voor oë.
Bianca Adriaanse, Lenice Cloete en Santie Human van Human Van der Merwe Incorporate .