Engeltjies maak groot verskil

MATZIKAMA: Koffiehouer engeltjies vlieg die afgelope tyd soos soetkoek vir inwoners se kersbome en dit ten bate van ‘n goeie doel. Die engeltjies is tans by verskeie besighede in Matzikama te koop.
Die Angel Project is onlangs deur Janine Storman-Van Zyl op die been gebring. Storman-Van Zyl het ‘n aansteeklike passie vir diere en hul welstand.
Sy sê dié idee het by haar opgekom toe sy die boompie met engeltjies vir haar kleinkinders vir Kersfees wou maak. Sy is nie deel van ‘n nie-winsgewende organisasie nie en het ‘n projek gesoek om fondse vir diere in nood in Matzikama te genereer. Sy lag as sy vertel dat sy nie ‘n kreatiewe been in haar lyf het nie en na vele Youtube video’s uiteindelik met die engeltjies vorendag gekom het.
Aan die begin het sy die projek uit haar eie en ‘n vriend in Kaapstad se sak befonds. Sy koop steeds die boompies uit haar  persoonlike fondse aan. Storman-Van Zyl het na sy die eerste 20 engeltjies gemaak het EDK Office National genader om te hoor of hul dit nie dalk wil verkoop nie. Stadig maar seker het die engeltjies net gewilder geraak. Tans voorsien sy aan ses besighede in Matzikama, nog twee kom volgende week by en sy voorsien tot aan mense in Kaapstad. Selfs iemand uit Calvinia het haar ook genader. Sy sê die aanvraag daarvoor het ontplof, sy kan soms nie voorbly nie. Die besighede en Storman-Van Zyl maak glad nie  wins op die engeltjies nie. Sy is verbaas oor die passie waarmee van die besighede dit verkoop, sommige plekke neem tot 50 engeltjies op ‘n keer.
Sy werk tans saam met verskeie organisasies en individue in Matzikama en Clanwilliam en die plaaslike veearts, dokter Chris van Dijk. Storman-Van Zyl sê die probleem met diere in Matzikama is groter as wat die publiek besef, veral omdat hier nie ‘n plaaslike diereskuiling is nie. Hier is ook nie ‘n sterilisasie- of inentingsprogram nie. Die probleem beïnvloed nie net die diere nie, maar ook kinders en volwassenes in die omgewing, omdat van die siektes wat die diere het, oorgedra kan word na mense. Sy sê sommige persone is nie ingelig oor die gevare wat die verskeie siektes het nie, en so word die openbare gesondheid net erger.
Storman-Van Zyl sê volgens die bywette van die munisipaliteit moet daar fondse aan die plaaslike veerarts of ‘n nie-winsgewende organisasie voorsien word om by te dra tot die sterilisasie- of inentings-programme, omdat hier nie ‘n diereskuiling is nie, maar daar is nie fondse nie. Dis hoekom sy die Angel Project begin het, om te help met sterilisasie en inentings. Sy help ook persone in Vredendal, Lutzville en Koekenaap om kos aan honde te voorsien. Die Angel Project en ander organisasies moet saam werk om die probleem te stuit. Die fondse wat uit die engeltjies gegenereer word, word in ‘n rekening by die plaaslike veearts in betaal vanwaar sy weer finansiële hulp bied waar nodig.
Vandat die projek begin het, kan sy al klaar ‘n verskil sien. Sy kan nou byvoorbeeld  seker maak dat ‘n hond wat deur ‘n ander een gebyt word die nodige mediese behandeling kry, omdat daar fondse is.
Haar eerste werkswinkel skop volgende maand af. Sy beplan om ‘n 1000 engeltjies per werkswinkel te maak. Die werkswinkels kan ook help om werksgeleenthede in ander areas te skep. Tans is dit ‘n “one woman’s show” en sy doen alles self, maar sy is nie alleen nie. Sy sê die gemeenskap nader haar om die engeltjies te verkoop en so het sy ‘n groot ondersteuningsnetwerk. Koffiehouers word weekliks deur die publiek by Hair by Annelie @ TWD afgegee, waarna Storman-Van Zyl dit optel en dan op ‘n Sondag was. Sy sê dit neem tot 10 ure om die houertjies skoon te maak en dan neem dit 10 minute per engeltjie om te maak. Al is dit tydrowend geniet sy elke oomblik daarvan.
Storman-Van Zyl beplan om elke “seisoen” die engeltjies af te wissel met iets anders, soos byvoorbeeld sleutelhouers en terug skool toe boekmerke. Die Angel Project is deel van ‘n groter prentjie en Storman-Van Zyl kan nie wag om dit uit te brei nie. Soos Storman-Van Zyl sê die engeltjies is “small in stature, but mighty in giving.” Enige persoon wat wil help met die projek is welkom om haar te kontak via WhatsApp by 069 691 5870.