Oud Vanrhynsdorper ‘n inspirasie vir jong mense

Berig: Verskaf

VANRHYNDORP: Professor Bernadictus (Bernie) Plaatjies is ‘n rolmodel en inspirasie vir baie jong mense.
Plaatjies is ‘n Vanrhynsdorper in murg en been. Hy begin sy skoolloopbaan by Maskam Primêr en matrikuleer aan Vredendal Senior Sekondêr.
Hy vertel hy het soos al sy tydgenote in Vanrhynsdorp se stofstrate gespeel. Rugby en krieket was maar altyd ‘n ernstige besigheid onder die wakende oog van die Maskamberg. Hul woonbuurt het drie spanne gehad wat daagliks teen mekaar rugby gespeel het. Later het hulle saam uitgedraf vir Flying Eagles. “Dit was onvergeetlike tye en daar op die harde velde het ons die spel se fynere kunsies geleer,” vertel hy.
Hy het na matriek by die Onderwys Kollege Hewat in Athlone gaan studeer. Na ‘n paar jaar in die onderwys het hy deeltyds begin studeer. Hy het eers ‘n Verdere Diploma in Onderwysbestuur- en leierskap aan die Boland Onderwys Kollege in Wellington voltooi. Daarna het hy ‘n B-Tech graad gedoen, gevolg deur ‘n meestersgraad. Die fokus was hoofsaaklik op Onderwysbestuur- en leierskap en ook kurrikulumstudies. Hierna het hy die doktorsgraad in Kurrikulumstudies aan Unisa in Pretoria verwerf.
Na ongeveer 22 jaar in die onderwys, laaste by Maskam Primêr, het hy ‘n pos as dosent in 2014 aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein aanvaar. Dit was ‘n groot skuif en saam met die genadelose Vrystaatse koue, “is ek met mening uit my gemaksone geruk. Hier is ek later bevorder tot senior dosent in die Fakulteit Opvoedkunde. Ek was vir 10 jaar op Kovsies, en die professionele groei wat ek hier ervaar het, was iets ysliks,” vertel Plaatjies. Laat verlede jaar is hy bevorder tot mede-professor by Unisa in Pretoria waar hy tans werksaam is in die Departe-ment van Kurrikulum-en Onderrigstudies.
Plaatjies vertel dat sy grootste rolmodelle uit sy familie kom, veral vir die waardes wat hulle by hom vasgelê het. “As ek dink aan diegene wat bygedra het tot my vorming as onderwyser, moet ek die naam van my oudste suster, Leah Greeff noem. Sy was ook ‘n onderwyser. Sy het min gepraat, en was ‘n presiese en hardwerkende vrou. Sy het deur haar voorbeeld gepraat, en het alles in haar vermoë gedoen om alle kinders in haar klas te laat slaag.” Sy broer, Koos Kotze was die ander groot dryfveer. Hy was ‘n bouer en as jong seun het Plaatjies vakansietye saam met hom gewerk. Plaatjies pas baie beginsels wat hy by hom geleer het, vandag nog toe.
Eerstens gee hy alle eer aan die Here, vir alle gawes wat Hy aan Hom gegee het. Hy het dit alles moontlik gemaak vir sy verdere studies. Dit was nie ‘n maklike pad nie, want om voltyds te werk en te studeer, wil gedoen wees. “Veral aan die begin van my deeltydse studiereis, was dit maar ‘n storie. Daar was ook baie finansiële opofferinge wat daarmee gepaard gegaan het, my vrou en kinders moes baie opoffer en soms met baie min tevrede wees,” vertel hy verder.
Sy raad aan jong mense en nuwe onderwysers is dat enig mens ‘n Godgegewe talent het. “Vat daardie talent en werk hard om dit uit te bou. Sorg dat jy in die werk wat jy doen, jou heel beste lewer, dit sal deure vir jou oopmaak, iemand sal dit raaksien,” is sy raad. Baie kinders het weens hul omstandighede hulp en ondersteuning nodig en in baie gevalle is dit net die skool en die onderwysers wat dit vir hulle kan gee. Daar is baie wat gedoen kan word, om die situasie om te keer, maar dit sal gepaard gaan met baie harde werk en opofferinge. Ekstra klasse om hul akademie te verbeter, is beslis ‘n moet. Dit sal die dissipline probleem verminder en prestasie verbeter. Dit weer, sal kinders se selfvertroue verbeter wat krities is vir verdere studie.
“Sport, sport, en nogmaals sport. Reël genoeg sportaktiwiteite vir die kinders. Laat hulle speel en reël soveel as moontlik wedstryde. Maak planne om die finansiële uitdagings te oorkom, wees kreatief. Vir beginner onderwysers gee ek die volgende raad: Gaan met die regte ingesteldheid na jou werk, gaan om ‘n verskil te maak (hou op redeneer en klim af van die selfoon af). Wees elke dag getrou op jou pos by die skool. Wees betyds. Gee om vir die kinders en doen moeite met hulle. Sorg dat jy goed voorbereid is vir die dagtaak en maak doodseker dat jy jou vakgebied ken – min dinge in die onderwys is so mooi soos ‘n onderwyser wat sy of haar vak ken. Verduidelik en verduidelik weer indien nodig sodat die kinders die werk kan verstaan. Kinders sal jou moeite raaksien, en wanneer ‘n onderwyser die ekstra myl stap, vertolk ‘n kind dit as omgee. Dit sal lei tot verbeterde prestasie, liefde vir die werk en groter rustigheid in jou klas, en uiteindelik die skool,” sluit hy af.

Professor Bernadictus (Bernie) Plaatjies.