Berig: Annemarie Munnik Foto’s: Verskaf
VREDENDAL: Sulene Reich, dogter van Hennie en Amanda Burnett het op die plaas Vaalboschkloof, buite Vredendal grootgeword. Sy bevind haar tans saam met haar Duitse man, Tim en twee kinders in Aguascalientes, Mexiko.
Sy het in 2007 aan Hoërskool Vredendal gematrikuleer, waarna sy haar BA en meesters in Bedryfsingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi het.
Sy het in 2013 by Mercedes-Benz Suid-Afrika (MBSA) begin en is in 2017 na Duitsland oorgeplaas as ‘n bedryfsingenieur.
Sy het haar man in Oos-Londen ontmoet by MBSA. Sy kontrak was slegs 18 maande in Suid-Afrika, maar hy het dit verleng na vier jaar. Hulle is in Suid-Afrika getroud. Daarna het hul besluit om na Duitsland te verhuis, sodat sy weer Tim se tuisland en kultuur kan leer ken.
In Duitsland is hul deur hul werkgewer genader om ‘n tydelike geleentheid in Mexiko. Dié besluit was nie maklik nie, want sy was op daardie stadium swanger met hulle dogtertjie en hulle seun was maar 18 maande. Hulle het egter besluit dit is ‘n goeie geleentheid om ‘n nuwe avontuur as gesin te beleef, nuwe land, nuwe kultuur, nuwe taal en dit is tydelik.
Dit is hoe hul in Maart 2022 in Aguascalientes, reg in die middel van Mexiko, met ongeveer 1.1 miljoen inwoners beland. Sy sê hulle sien dit as ‘n stad, maar die Mexikane sien dit as ‘n dorp.
In Mexico is sy verantwoordelik vir toekoms strategie projekte by die fabriek van Mercedes-Benz. Tim is verantwoordelik vir al die logistieke prosesse van parte en die uitvoer van voertuie regoor die wêreld.
Reich vertel na 4 jaar in Duitsland, herinner Mexiko haar baie aan Suid-Afrika. Mexiko het dieselfde weer, plantegroei, paaie met slaggate en vriendelike mense. Hulle woon in ‘n kompleks met ‘n gemeenskaplike tuin/swembad en braai-area, dit is baie algemeen daar. Wat wel anders is in Mexiko, is dat die plaaslike inwoners eers tussen 10:00 en 11:00 ontbyt eet, middagete wat ook meestal die hoofmaal is so teen 15:00 en aandete tussen 20:00 en 21:00. In ‘n begin in ‘n nuwe land is alles vreemd. “Waar koop ek brood, kan ek die kraanwater drink, is van die dinge wat jy self moet uitvind. Die eerste paar maande is inkopies ‘n groot uitdaging, jy neig om dit te soek wat jy ken, maar partykeer lyk dit dieselfde en omdat jy nie kan lees wat op die pakkie staan nie en ook nie regtig kan vra nie, kan dit jou heeltemal verras. So aan die begin is dit maar baie “trial en error” totdat jy die basiese vasgestel het, en dan verder begin verken en probeer.”
Hulle kinders is in ‘n speelskooltjie, maar dit voel vir haar baie soos skool. Hulle dra uniforms van 1 jaar oud af, en die skooltjies is 50% Spaans, 50% Engels, hulle het vakke soos kuns, geloof, Wiskunde, neu-romotoric play, sensoric play. Haar seun is 3 jaar oud en hulle kry een keer ‘n week Spaanse huiswerk, asook Wiskunde huiswerk en hy het twee verskillende sport-soorte elke week na skool. Buiten dit, is daar altyd een of ander geleentheid om “fiesta” (Spaans vir feesvier) te hê. So hulle het gereeld dae by die skool soos Beroepsdag, Mexican Heritage Day en De los Muertos (Day of the Dead), dan kry die kinders die geleentheid om volgens die tema aan te trek.
“Die inwoners is baie sosiaal en hou van “fiestas”. Dit is baie algemeen dat jy dadelik genooi word na iemand se huis, sy verjaarsdag of self troue of ander geleenthede net nadat jy hulle ontmoet het. Hulle is gewoond aan groot events en geniet dit ook baie om sulke events aan te bied. Die gemiddelde kinderpartytjie is ge-woonlik tussen 20-50 kinders met ouers, broers, susters en ander familie.”
Reich vertel die Mexikane het ‘n feestelike kultuur. “Hier het ek geleer dat die Suid-Afrikaanse “nou”, “nou-nou” en “net-nou”, hier nog ‘n stappie verder gevat word. Dit is byvoorbeeld baie algemeen om ‘n uur of meer laat te wees. As jy betyds is, word dit as ‘n belediging beskou.” Day of the Dead is ‘n baie groot tradisie, dit word net voor Halloween gevier. Gedurende dié tyd word die hele stad versier en elke huis het ‘n altaar by hulle voordeur met foto’s van geliefdes wat hulle aan die dood afgestaan het en iets daarby wat hulle aan die persoon herinner.
“Las Posadas,” bekend as kerspartytjies is ook ‘n baie groot feesviering en begin al vroeg in Desember. Dit is algemeen om 2 tot 3 posadas in ‘n week te hê saam met verskillende groepe mense. Dit gaan gepaard met tradisionele kos, piñatas en natuurlik tequila.
In Aguascalientes self word die grootste fees in die hele Latyn Amerika jaarliks gehou, Feria de San Marcos. Dit duur 3 weke en oor die tydperk besoek ongeveer 8 mil-joen mense die fees. “Dit is net ´n “non-stop” partytjie vir 3 weke. Daar is restaurante en kroeë wat net vir hierdie 3 weke in die jaar oopmaak,” vertel sy.
Sy sê die een ding wat hul nie in Suid-Afrika geëet het nie, maar wel daar leer eet het, is tacos. “Jy kry letterlik om elke hoek en draai ‘n taco stalletjie of restaurantjie. Tequila is natuurlik ´n baie groot ding hier, en daar word nooit ‘n geleentheid gevier sonder tequila nie. Ek moet wel sê dat die tequila hier nie met Suid-Afrikaanse tequila vergelyk kan word nie.” Michilada, is bier wat met tamatiesap gemeng word en die glas se rand het brandrissiepoeier om. Nachos word vir ontbyt geëet met brandsous en eier of vleis. Chicharrón is ook orals te koop, dit is diep gebraaide vark.
Dit is vir haar en Tim baie belangrik om hulle moedertaal vir hul kinders te leer. Die hoofrede is sodat hulle met hulle families, oumas en oupas in hul moedertaal kan kommunikeer. “Aangesien Tim Duits is, is daar nogals ‘n baie interessante dinamiek in ons huis. Ek en Tim praat Engels met mekaar. Ek praat Afrikaans met die kinders en hy praat Duits met hulle. Vandat ons in Mexiko is leer die kinders Spaans as moedertaal. Die kinders praat Spaans met mekaar as hulle speel. Dit is regtig een van die mees fassinerende dinge wat ek van hierdie hele ervaring kan sê. My seun is drie en hy praat vier tale. Afhangende met wie hy praat, verander hy die taal waarin hy praat sonder enige probleme. Ek het nooit gedink dat dit moontlik is nie.”
Wat hulle die meeste van Suid-Afrika mis, is die kos, wyn en natuurlik biltong. Die manier hoe die Reichs disse voorberei, is ‘n mengsel tussen Suid-Afrikaans en Duitse kosse en “so bietjie Meksikaans ook deesdae”. Ek het ´n lysie wat regstaan as ons besoekers uit Suid-Afrika kry of as ek van ´n kollega weet wat Suid-Afrika toe gaan. Niks kom naby Suid-Afrikaanse biltong en droëwors nie, sê Sulene”
Sy sê Mexiko is net so mooi en idillies soos in flieks. Dit is ‘n land wat ‘n baie groot verskeidenheid bied, van bergreekse, tropiese strande op die Karibiese Eilande en die Stille Oseaan. Pragtige stede met baie ryk kutuur en geskiedenis. Mexiko word ook gereeld onder die top 20 mooiste lande of beste vakansie-oorde gekategoriseer “en uit ons ervaring hier, kan ek dit wel bevestig.” Om oorsee te woon is vir hulle ‘n baie interessante ervaring. Hulle geniet dit om nuwe kulture te beleef en te verstaan. “Ons sal graag eendag wil terugkom, die gedagte is eintlik altyd by ons. Ek dink wel omdat my man se familie in Duitsland woon sal ons altyd verdeeld wees tussen die twee lande. Dit is moeilik om nou te sê waar ons wel gaan opeindig. Ons is baie oop vir wat die toekoms inhou en glo vas dat dit wat moet gebeur, sal gebeur,” sluit sy af.