Berig: Darren Goliath Foto’s: Verskaf
VREDENDAL: ‘n Oud-Vredendaller, Heidi Els (43) bevind haar die afgelope 18 jaar in die Verenigde Koninkryk.
Els se ma, Bianca is oorspronklik van Portugal, maar het saam met haar ouers na Walvisbaai toe immigreer toe die oorlog destyds daar uitgebreek het. Haar pa, Fanie is oorspronklik van Elliot in die Oos-Kaap en het hom in Walvisbaai gevestig saam met sy familie. Haar ouers het hier ontmoet en in die huwelik getree. Els en haar broer is albei in Walvisbaai gebore en was in ‘n Engelssprekende skool. Hulle verhuis in 1994 na Vredendal. Els sê laggend dat hulle meestal Engels in die huis praat, maar praat partykeer Afrikaans, veral as hulle hul ma wil opwerk.
Els het nadat sy gematrikuleer het in 1999, begin werk en by die Suid-Afrikaanse Polisie Reserviste aangesluit. Sy het vir 6 jaar as reservis gewerk. Sy sê: “Om ‘n sekuriteit te wees, was nie regtig in my toekomsplanne nie. Ek het altyd gedink nadat ek by die reserviste aangesluit het, ek sou in my pa se voetspore volg en by die SAPD aansluit.”
Els het in 2006 na Londen vertrek en die eerste twee jaar was ‘n groot aanpassing, maar gelukkig was haar broer, Jean-Paul, vir ‘n oorbruggingsjaar in London en kon hulle vir ‘n ruk lank ‘n huis deel. Die hoë lewenskoste het tot gevolg gehad dat sy uit London na Essex, sowat 45 minute se treinrit of ‘n uur per voertuig verhuis het.
Els is nou al agt en ‘n half jaar in die sekuriteitsbedryf. Sy verduidelik dat daar verskillende sekuriteitssektore in Engeland is, waarvan elkeen sy eie opleiding en lisensie het om sekuriteitsdienste te lewer. Els werk tans vir ‘n privaat maatskappy wat kontrakte regoor London se munisipale areas het. Sy moes deur ‘n intense agtergrond ondersoek gaan voordat sy addisionele hulpmiddels kon kry, om boeie te dra en besonderhede van misdadigers te verkry. Els verduidelik dat hulle op gereelde basis saam met die polisie werk en intelligensie inligting versamel wat dan met die polisie gedeel word. Sy sê dat sy ‘n sekuriteitslisensie moet hê om elke dag met die publiek te werk. Daar is daaglikse uitdagings in haar beroep. Dwelmmisbruik en die handel daarvan, veral waar kinders betrokke is, is een van vele uitdagings, sowel as besope mense. Die grootste uitdaging vir Els is egter om professioneel op te tree wanneer mense gewelddadig raak teenoor haar en die res van die span.
Els sê dat hoe ouer sy word, hoe meer verlang sy na Suid-Afrika, veral as sy na Afrikaanse musiek luister, braai, Suid-Afrikaanse lekkernye soos droëwors en biltong ontvang. Wanneer die heimwee te veel raak kommunikeer sy met haar familie. Sy verlang baie na haar familie en haar handjievol vriende. Die warm weer en die vryheid van die oop natuur mis sy ook.
Els sukkel om aan te pas by die weersomstandighede. Sy sê dat sy nie baie lief is vir die koue nie. Sy mis ook die humorsin van die Suid-Afrikaners omdat die Engelse baie ernstig is. Die grootste kultuurskok wat sy ervaar het, is om te sien hoe skoolkinders hul uniform dra, veral die meisies. Daar is geen dissipline en respek vir die skool en onderwysers nie.
‘n Fassinerende element vir Els is die hoeveelheid historiese geboue, veral in die kleiner dorpies. Els sê: “Die karakter van die omgewing verskil van London. Ek vind London besig en alles beweeg teen ‘n vinnige pas.” Els speel ook rugby en dit is een van haar gunsteling tydverdrywe.
Die positiewe kant van in die Verenigde Koninkryk bly is wanneer jy hardwerkend is, word dit raakgesien en die salaris kan baie goed wees. Die National Health Service (NHS) is gratis, selfs wanneer ‘n persoon ‘n operasie ondergaan is dit gratis, maar daar kan ‘n lang waglys wees.
Sy sê ook dat dit maklik is om die res van Europa te verken. “Naweekuitstappies kan maklik onderneem word as jy ‘n goeie pakket kry,” sê sy. Aan die negatiewe kant, is die lewenskoste baie hoog. Daar is ‘n koste verbonde aan alles en wanneer jy niemand in die land ken nie, kan dit eensaam raak.
Die nasionale gereg van die Verenigde Koninkryk is vis en skyfies. Ander populêre geregte is onder andere pasteie bedien met kapokaartappels en drank, middagtee en Skotse eiers. Volgens Els is die inwoners nie baie lief daarvoor om speserye te gebruik nie, wat soms geregte smaakloos laat. Els sê dat hulle nie snoek in Essex verkoop nie, maar wel stokvis en kabeljou. Sy sê dat die vis min of meer dieselfde daar is, al verskil is dat die vis- en skyfie besighede hamburgers, hoender, gehawende wors en kerriesous ook verkoop. Els sê dat die asyn ook anders proe as Suid-Afrika sin.
Els se raad aan Suid-Afrikaners wat oorsee wil werk, is: “Doen navorsing oor koste van verblyf en die wette en regulasies van daardie land.” Sy sê ook dat kontak met ‘n persoon in die land waarna ‘n persoon wil emmigreer is belangrik om heimwee te vermy. Haar laaste raad is om spaarsamig met jou geld te werk en vooruitbeplanning te doen.
