Berig: Annemarie Munnik Foto’s: Verskaf
VREDENDAL: Die eerste ding wat Chris Nel (39), seun van Riaan en Marietjie Nel opgeval het toe hy en sy vrou, Tess, die eerste keer in vyf jaar vanaf Kaapstad Internasionale Lughawe verby Clanwilliam ry, is die reuk van die bossies, die veld en die berge. Hy mis die berge.
Nel is die afgelope 13 jaar in die suide van Australië waar hy en sy vrou en hul vyf honde op ‘n kleinhoewe buite die dorp Naracoorte, met ongeveer 9000 inwoners woon.
Nel, wat Afrikaans nou met ‘n aksent praat, het sy argitek tekenaarskursus in 2009 voltooi. Hy en ‘n vriend, Martin de Klerk het in 2010 Australië toe gegaan vir werksondervinding. Ongelukkig eindig Van Niekerk in Wes-Australië op en Nel in die ooste, in die staat Victoria. Binne die eerste maand hier, het hy Tess ontmoet. Hy lag as hy vertel hulle het nie tyd gemors nie.
Nel het ses maande op ‘n plaas gewerk tot sy visum verval het, waarna hy teruggekeer het na Suid-Afrika. In 2011 het hy by ‘n ingenieursmaatskappy in die Kaap gewerk, waar hy meganiese tekeninge gedoen en ‘n waterjetmasjien bestuur het. Dieselfde jaar het Tess, haar ma en sussie vir Nel kom kuier om sy familie te ontmoet. Die paartjie het op Strandfontein verloof geraak en is ‘n jaar later in Vredendal getroud. Einde 2011 het Nel permanent Australië toe getrek. Hy vertel hy het oorgegaan met net ‘n tas klere, om ‘n hele nuwe lewe in dié klein dorpie te begin.
Aan die begin het hy ‘n jaar lank by ‘n kabinetmaker gewerk, maar werk het later begin opdroog en hy kon net drie dae ‘n week werk. Tess het hom vertel van ‘n werksgeleentheid by ‘n versekeringsmaatskappy, hier het hy drie en ‘n half jaar as korttermyn versekeringsagent gewerk. Hy het steeds aan sy werk as argitektekenaar gedink en dat hy dit steeds wil doen.
In 2013 het die paartjie die geleentheid gekry om ‘n kleinhoewe te koop en ‘n huis te bou. Nel wou baie graag vir die maatskappy wat die huis gebou het, as tekenaar werk. Hy vertel hy het die eienaar maande lank gepla vir ‘n werksgeleentheid, waarna hy uiteindelik ingestem het. Die maatskappy het nie ‘n tekenaar posisie gehad nie en Nel moes huise verkoop, maar hy het tussendeur aan huisplanne gewerk. “Ek kon daar ‘n “box tick” van een van my persoonlike doelwitte. Ek het ‘n huis van scratch af ontwerp.” Dit is ‘n dubbelverdieping huis wat teen die see gebou is. Hy het dit egter nie so baie by die bouers geniet soos hy gedink het hy gaan nie.
Twee jaar later het hy werk op ‘n skaapplaas gekry en vyf jaar later is hy steeds gelukkig in die posisie.
Hy het hier baie geleer. In die begin het hy net die ses maande se ondervinding gehad. Dit is net hy en sy werkgewer op die plaas, alhoewel hulle kontrakteurs inkry vir skeer, oes, ensovoorts. Nel noem die eienaar het alles oor die jare so opgestel dat dit ‘n “one man band” is. Hulle boer met 10 000 produktiewe ooie en het ongeveer 65 hektaar wingerd wat rooiwyn druiwe is. Die plaas is so opgestel dat die eienaar en sy hond manalleen 3000 ooie van punt A na punt B kan skuif sonder enige moeilikheid.
Nel vertel die plaas word baie wetenskaplik bestuur. Hy is tans besig met ‘n kursus waar hulle leer hoe om verskillende situasies te ontleed en analiseer, en dan die hoeveelheid kos wat daagliks aan dragtige ooie gegee moet word. Net soos op enige ander plaas het hulle ook probleme met jakkalse.
Nel vertel dis altyd lekker om huis toe te kom, “om jou ma se kos te eet.” Hulle gesels weekliks op Skype, maar mens pas vinnig aan. Sy grootste aanpassing in die nuwe land was Engels, omdat hier nie plaaslik baie Engels gepraat word nie. Hy en Tess praat net Engels met mekaar, maar hy praat Afrikaans met sy honde. Hy het haar al so ‘n paar Afrikaanse troetelname geleer. Hy sê omdat hy in ‘n Engelse land is, het hy geen begeerte om haar Afrikaans te leer nie, “daar is geen nut nie. Ek praat heeldag Engels by die werk. Jy dink later in Engels.” Hy praat wel nog Engels met ‘n SuidAfrikaanse aksent. Baie mense vra hom nog van waar hy is, omdat hulle ‘n aksent hoor. “Ek sê sommer dis ‘n Naracoorte aksent.”
Hulle het ‘n goeie vriendekring. Twee van sy vriende kom uit Moorreesburg, twee uit Loeriesfontein en een uit Lichtenburg. Van hulle kinders is in Suid-Afrika gebore en ander in Australië.
Suid-Australië se klimaat is baie soos hier. Dit word net baie kouer in die winter en reën baie meer. Hy vertel die somer word warm, maar nie naastenby so warm soos Vredendal nie. Die Australiese son brand net baie erger as hier. Vanaf einde November tot einde April mag hulle glad nie vuur maak nie. Mens kan wel ‘n “comfort fire” maak, soos die Suid-Afrikaners doen as hulle braai, maar daar moet water naby wees ingeval die vuur handuit ruk. Hy sê hy het daar gesien hoe maklik iets aan die brand kan slaan, omdat hulle veld en grond so droog is. Die wind vererger dit net. Hy sê in die afgelope vyf jaar was daar ‘n verskriklike brand 40 minute van hom af. Plase het afgebrand en diere het doodgebrand.
Nel sê dis snaaks hoe ooreenstemmend die twee kulture is, al is dit “‘n wêreld van mekaar.” Hulle sêgoed is ook baie dieselfde as ons sin. Selfs wat kos betref, is dit baie soos Suid-Afrika, rys, vleis en aartappels. Hy vertel hy het in 2010 een keer kangaroo geëet, dit word in sommige restaurant voorgesit. Nel sê dit proe soos wildsvleis. Dit is vir hom ‘n mooi dier, so hulle bly maar by die bekende, bees, skaap of vis. Hy dink wel die Suid-Afrikaners maak beter kos, “ons het lekkerder speserye wat ons insit. Wat is dan nou beter as ‘n braai.” Hy mis Suid-Afrikaanse boerewors, daar is ‘n dag en nag verskil teenoor hulle wors. Sy ervaring is die platteland, maar net soos in Suid-Afrika is die stede baie anders. Oor die algemeen is die mense baie verwelkomend, gasvry en help graag waar hulle kan.
Australië is wel nie wat ander verwag nie, omdat die sentrale deel van die land meer adverteer word. Soos die koalas en kangaroos, inheemse mense en hulle musiek, maar dit is nie so waar hy bly nie. “Daar is nie koalas waar ek bly nie, net kangaroos.”
Mens hoor altyd van die giftigste gediertes in Australië. Nel vertel, vir ‘n man wat nie hou van spinnekoppe nie, is daar wel ‘n paar wat hy vermy. Onder andere die Red Back en White Tail. Dit is ongeveer 2 tot 3 sentimeter groot, maar 2 tot 3 sentimeter te groot na sy sin. Daar is ook twee hoof slangspesies in die omgewing waar hy bly. Die Eastern Brown Snake, een van die giftigste slange in die wêreld. Dit byt jaarliks talle honde dood. Die Tiger Snake is bekend vir sy aggressie.
Hy ry graag motorfiets en speel gholf. Hy is ook baie lief vir tuinmaak. Hy het ‘n ruk gelede ‘n C&C masjien gekoop waarmee hy goed soos kaasborde of naamborde ontwerp en dan uit “redgum” (bloekomboom) sny. Hy doen ook laserwerk waar hy enige iets van oorbelle uitsny, tot foto’s in hout ingraveer.
Hy en sy vriend Paul, ‘n vriend van Moorreesburg, maak ook saam musiek. Paul speel klawerbord en Nel speel kitaar. Hulle is baie populêr by Suid-Afrikaanse danse met liedjies van Smokie, CCR, Bellamy Brothers en Worsie Visser net om ‘n paar te noem. Hul grootste dans was in 2022 waar hulle by ‘n Suid-Afrikaanse fees opgetree het waar so 150-200 mense om en op die dansbaan was.
Nel dink Australië is ‘n baie goeie land om in te bly. Dit bied baie geleenthede, solank jy bereid is om hard te werk. “Jy werk hard, maar jy word daarvoor beloon. “Dit was moeilik aan die begin, maar dit werp vrugte af. Dit is wel deesdae moeiliker vir jong mense om na Australië te emigreer, maar as ‘n persoon 40 jaar en ouer is, raak dit nog moeiliker en duurder om oor te gaan. “Ek sal dit aanbeveel. Solank jy ‘n “can do attitude” het, sal jy dit maak.”
Sal hy ooit terugkom Suid-Afrika toe? Nee, hy sal vir sy familie kom kuier, maar sal nie terugkom nie. Hy mis wel vir Vre-dendal soos hy dit onthou toe hy grootgeword het. Hy vertel dit lyk nou totaal en al soos ‘n ander dorp.
Hy sê jy besoek Suid-Afrika. Jy ruik dit, sien dit, proe dit en weet dit is die land waar jy grootgeword het, wat deel is van jou DNA en jy mis dit. Dan sien jy al die negatiewe dinge raak en besef jy het wel die regte besluit geneem.