Vroue wat ‘n verskil maak

Berig: Darren Goliath Foto: Verskaf

VREDENDAL-NOORD: Ter viering van Vrouemaand het Ons Kontrei met. Bianca Yolanda du Toit (35)  gesels oor haar rol as Geslagsgebaseerde Geweld (GBV) delegeerder, NGO stigter en ma van vyf.
Du Toit is op 22 Januarie 1989 in Elsiesrivier in die Kaap gebore. Sy het ‘n paar jaar by haar ma gebly voordat sy na Putsekloof verhuis het. Bianca het een boetie, Travis George Mark du Toit.
Voordat Du Toit haar eie NGO (Matzikama Broken Angels Network) gestig het, het sy as kassiere by Shoprite in Vredendal gewerk. Sy het ook as sekuriteitswag by Woolworths in Vredenburg gewerk waar sy CCTV kameras gemonitor het. In 2011 het sy bedank , terwyl sy swanger was met haar tweede kind, waarna sy as ‘n GBV delegeerder begin werk het.
Bianca du Toit sê die rede waarom sy as GBV delegeerder begin werk het, is omdat sy op die ouderdom van 9 verkrag is. Sy het toe die besluit geneem om ander persone, veral kinders te help om hul trauma te verwerk. Die dienste wat sy verskaf aan slagoffers is trauma berading, werkersregte, die skep van ‘n veilige ruimte en om mense te help en bewus te maak van sosiale of ekonomiese probleme.
Die moeilikste gedeelte van Du Toit se werk is ondankbaarheid. Sy sê dat gemeenskapslede haar soms negatief behandel veral wanneer dit kom by die mishandeling van kinders. Ouers en familielede is soms onbeskof teenoor haar omdat sy diè kinders wil help om in beter omstandighede groot te word. Die moeilikste saak wat Du Toit al hanteer het, is die moord van haar vriendin, Monique Thobashè. “Haar moord het my hard getref. Daar was baie emosies betrokke terwyl ek vir haar geveg het,” sê Du Toit. Sy sê as ma was dit baie moeilik aan die begin, omdat sy gedurig op opleidingskursusse moes gaan. “Dit was ‘n baie groot uitdaging veral as jy ‘n enkelouer is,” sê sy.
Du Toit se NGO is in Oktober 2023 gestig. Sy het lank met die naam geworstel totdat sy eendag na ‘n jeugdag in Putsekloof uitgenooi is om ‘n motiveringspraatjie te lewer. “Ek moes my verkragter in die gesig staar en dit is hoe ek genesing gevind het. Ek het agterna gebid en vir die Here gevra wat die naam van my NGO moet wees,” verduidelik Du Toit. Sy sê dat sy in ‘n taxi gesit het toe die naam “Matzikama Broken Angels Network” by haar opgekom het.
Hierdie netwerk bestaan tans uit drie vrouelede. “Daar is nog plek vir jong-mense, mans, vroue en LGBTQ+ lede,” sê du Toit.
Kontak Bianca du Toit by 066 086 9177 vir meer inligting oor Matzikama Broken Angels Network.

Bianca Yolanda du Toit.