Berig: Mariaan Smuts Foto: Verskaf
LAMBERTSBAAI: Gedurende Augustus vier Ons Kontrei Vrouemaand en dan gesels ons met vrouens wat ‘n verskil in hulle gemeenskap maak.Hetta Saunderson is oorspronklik ‘n plaasmeisie van Calvinia, maar het vir 34 jaar in Malmesbury gewoon, waartydens sy 23 daarvan by Swartland Wynkelder gewerk het. In 2007 begin sy haar eie besigheid, M4 Events and Promotions, en toer die hele land vol.
Saunderson se ma,’n nooi Engelbrecht, was ‘n boorling van Lambertsbaai en die dorp was hulle vakansieplek. Sy het baie mense in die gemeenskap en deur haar kerk ontmoet. In 2021, ‘n jaar nadat haar ma oorlede is, verhuis Saunderson na Lambertsbaai om haar pa te versorg en haar besigheid van daar te bedryf. Sy sê dit verg dikwels goeie beplanning, maar werk heel goed. Sy het nog steeds haar huis in Malmesbury, maar die lekker weer in Lambertsbaai sal beslis nie ‘n rede wees om gou te trek nie.
Saunderson is ‘n omgee-mens en omdat kinders en ouer persone haar na aan die hart lê, wil sy hulle net gelukkig maak. Sy was in Malmesbury baie betrokke by gemeenskapswerk. Sy sou gou ‘n pot sop kook en in die aand vir die petroljoggies gaan gee omdat hul deurnag werk. Sy het ook maklik soggens vir die span wat die dorp skoonmaak by haar winkeltjie broodjies en iets warm gegee om te drink. Die vreugde op hulle gesigte het haar dankbaar gemaak vir wat sy het. Die inperkings tydens Covid was vir haar ‘n moeilike tyd omdat sy nie kon werk nie.
In Lambertsbaai het sy die tehuise genader om te hoor wat hulle benodig en so het sy handdoeke en enkelbedlakens begin insamel. Mense ondersteun haar met skenkings en sy kry gereeld uit die stad of ander dorpe klere wat baie help met haar projekte. Koeriers laai gereeld bokse vol skenkings by haar af en dan weet sy God voorsien. Sy gee baie van dié skenkings aan dokter Hayes se klerebank. Die gemeenskap weet sy help graag en klop gereeld by haar aan. Sy het ook die “Odd Socks” projek begin. Persone bring vir haar sokkies wat hulle nie meer dra nie of waarvan 1 weggeraak het. Daardie sokkies gebruik sy om koue voete warm te maak.
Saunderson sê om ‘n geleentheidsorganiseerder te wees behels dat jy altyd met niks begin en dan iets daaruit bou. Dit help haar om makliker by die gemeenskap in te skakel. “Die gemeenskap van Lambertsbaai is baie kleiner as Malmesbury, maar dit voel hier is meer werk in die gemeenskap om te doen as by ander groter dorpe. Werkloosheid is baie groot en hier is ook minder geleenthede vir jong mense,” sê Saunderson. Sy sê die swaarkry van mense is vir haar moeilik om te aanvaar en as iemand in die posisie is om te kan help, hoe groot of klein, maak dit ‘n verskil aan iemand se lewe. Sy sê gemeenskapswerk moet ook nie altyd net gaan oor die skenking van kos of klere nie. Vir haar moet dit baie meer gaan oor opheffing sodat mense later vir hulself iets kan skep om ‘n inkomste te genereer. Dit is haar hartsbegeerte om so ‘n projek te begin en sy is in gesprek met mense, maar dit neem tyd om dit van die grond af te kry en befondsing te bekom. Sy hoop om teen einde 2025 te begin.
Sy is nou betrokke by die kerk en is ‘n lid van die plaaslike toerismevereniging. Omdat sy voltyds by “events” betrokke is, is dit vir haar moeilik om haar volle gewig by ‘n vereniging in te gooi. Dit wat sy doen, doen sy alleen, maar sy werk ook deur die kerk met die gemeenskap en hanteer die kerk se fondsinsamelingsprojekte. Baie mense weet dat hulle na haar kan kom as hulle hulp benodig. Sy reik ook self uit na mense as sy weet daar is probleme. Sy is lief vir kook en bak en dis vir haar lekker om iets nuut te toets.
Sy het begin om maandeliks ‘n markie by die kerk aan te bied en is dankbaar om te sê dat die hele gemeenskap nou gereeld kom met goedjies om te verkoop wat hulle tuis gemaak het. “Dit is lekker om te sien hoe trots hulle op hul produkte is en te besef hulle kry ook ‘n inkomste daaruit,” sê sy. Saunderson was ook verantwoordelik vir die begin van die jaarlikse Kersmark twee jaar gelede en hulle kry ongelooflike bywoning en ondersteuning vir die dorp. Hulle hou ook in Desember ‘n fotokompetisie op haar sosiale mediablad, “What’s on in Lambertsbaai.” Sy bied ook gedurende Desember ‘n vakansieprogram by die Kerk aan in samewerking met die gemeenskap. Sy is besig met die beplanning van die Vroueoggend en Manne-aand wat in Oktober gaan plaasvind. Saunderson het groot idees en wil ‘n paar Springbokke nooi om die aand vir die manne onvergeetlik te maak. Nataniel se optrede vroeër vanjaar het ‘n baie goeie opkoms gelewer en omdat sy met so baie kunstenaars werk, wil almal nou in Lambertsbaai kom optree.
Sy help ook mense wat ‘n klein besigheid wil begin om die nodige dokumente te bekom en lei hul na die regte mense. Baie mense kontak haar vir toerisme inligting en dis vir haar lekker om te help. Haar sosiale mediablad “What’s on in Lambertsbaai” kry baie navrae.
Sy maak geen geld uit die gemeen-skapswerk nie en ploeg alle fondse terug in die gemeenskap. “Dit is my bydrae vir ‘n Godgegewe talent wat ek ontvang het,” sê sy. Daar sal verseker ‘n tyd kom dat sy moet begin afskaal, maar vir nou leef sy nog haar drome uit.
Hetta Saunderson (foto onder) is ‘n vrou van vele talente. Sy is by verskeie TV produksies betrokke, die lys is te lank om op te noem.