Berig: Darren Goliath Foto: Verskaf
VREDENDAL: Ter viering van Vrouemaand gesels ons met vrouens wat ‘n verskil maak in die gemeenskap. Hierdie week gesels ons met Jacky Gorden, neè Hector, stigter van Sisters Empowerment Movement.
Gorden is op 23 Julie 1975 op Rooiberg gebore, ‘n paar kilometer van Vredendal en Vanrhynsdorp. Sy is een van agt kinders waarvan een suster oorlede is. Beide haar ouers is ook al oorlede. Sy het daar gewoon tot ‘n bomontplofing in die 1980`s. Sy en haar familie is genoodsaak om na Vredendal te verhuis. Daardie gebied was destyds gebruik as oefenkamp vir die weermag.
Gorden het haar skoolloopbaan aan Rooiberg Primêr begin en in 1994 matrikuleer by Vredendal Senior Sekondêr. In 1995 begin sy by Vredendal Munisipaliteit werk wat daarna Matzikama Munisipaliteit geword het. Sy was sedertdien baie betrokke by gemeenskapsorganisasies wat vroue en kinders gehelp het. Sy bedank in 2011 en word weer aangestel in 2018 as Gemeenskaps-ontwikkelingsbeampte. “In 1956 het aantal ‘n vroue voortou geneem en optog gehou na die unie geboue daarom vier ons vandag Vrouemaand, maar ek verstaan soms nie hoekom sommige mans vroue mishandel nie. Wat my ook seer maak is hoe vroue onderdruk word,” sê Gorden.
In 2014, terwyl sy werkloos was, is sy en ‘n paar vroue in die gemeenskap deur ‘n organisasie van Johannesburg, Gender Links, genader om aan ‘n werkswinkel deel te neem. Hierdie werkswinkel fokus op vroue wat mishandel is en het ook hulp verleen om hul eie besighede te registreer. In 2016 het Gorden weer die geleentheid gekry om dieselfde werkswinkel by te woon en dit het haar geïnspireer om haar eie nie-regeringsorganisasie “Sisters Empowerment Movement” te stig. Gorden sê: “Ek het geluister waardeur baie vroue gegaan het en daar het ek besluit ek moet iets doen. My visie is om geestelike genesing aan vroue en kinders in die Matzikama streek te bied en ook op ander plekke waar ek ook kan help.” Gorden noem dat baie vroue, kinders en mans geslagsgebaseerde geweld deurmaak en sedert COVID-19 het die misdade teen vroue en kinders toegeneem. Sy sê dat vroue nie net fisies en emosioneel mishandel word nie, maar ook ekonomies onderdruk word net om te oorleef vir hul families en kinders se onthalwe. “Vroue en jong meisies, verval in prostitusie ter wille van oorlewing,” sê Gorden. Sy sê dat sy baie keer leerders help om terug skool toe te gaan, maar sommige ouers werk nie saam om kinders terug in die skool te sit of te hou nie. “Ons moenie toelaat dat omstandighede ons afbring nie. Staan op en veg terug. Praat met organisasies soos Sisters Empowerment Movement wat jou kan help en breek die stilte,” sê sy. “Vroue en kinders was nog altyd baie na aan my hart en dis waarom ek besluit het om my eie NGO, Sisters Empowerment Movement te stig,” sê Gorden. Die naam is ter herinnering aan vroue en kinders wat mishandel word en nie vir hulself kan opstaan nie,” sê Gorden. Hierdie organisasie is in September 2023 geregistreer na hul eerste vergadering in Junie 2022.
Gorden is getroud met 4 kinders. Gorden sê dat hul gereeld familiebyeenkomste hou soos verjaarsdae, familie is vir haar belangrik. “Ons is baie geheg aan mekaar,” sê sy. In Gorden se vryetyd kuier sy gereeld saam haar familie en sê dat haar kinders en haar eggenoot altyd by haar is. Wanneer iets haar wel pla, praat sy daaroor, dit is die manier hoe sy vrede kry. “Ek praat ook met die Here daaroor, want elke uitreikingsprogram wat ek aanbied in die gemeenskap vra ek vir Sy krag en ondersteuning,” sê Gorden. Die beste gedeelte van haar werk is wanneer sy fisies mense kan ondersteun en hulp verleen, veral aan weerlose vroue, kinders, bejaardes en gestremdes. Samewerking met ander organisasies is ook die beste deel van haar werk.
Vir meer inligting of om aan te sluit by Jacky Hector se Sister Empowerment Movement kontak 076 559 6402.
Jacky Hector.