Sanet, Karookind in murg en been

Berig: Mariaan Smuts Foto: Verskaf

CLANWILLIAM:Ter viering van Vrouemaand gesels ons met vrouens wat ‘n verskil maak in die gemeenskap. Hierdie week gesels ons met Sanet Stander. Sy is in Laingsburg gebore en ‘n Karookind in murg en been. Stander was daar op skool waarna sy op dorpe soos Jongensfontein, Ceres en Stellenbosch gewerk het. Sy het ook soos baie ander die “working holiday” ding in Engeland gedoen, waar sy ander kulture kon beleef en haar horisonne kon verbreed.
Stander sê die platteland is deel van haar DNA. Sy geniet die rustige verkeer, die vriendelike, gasvrye mense en die feit dat daar altyd parkeerplek beskikbaar of naby is.
As klein dogtertjie het haar ouers haar grootgemaak met die hand opsteek gewoonte. Die hele gesin was nou betrokke by die gemeenskap en was by baie projekte betrokke. Indien jy deel wil wees van ‘n projek, wag jy nie om gevra te word nie, maar steek jou hand op en bied jou hulp aan. Haar ouers was deel van die skool- en koshuispersoneel en die gesin was by verskillende aktiwiteite in die gemeenskap betrokke. Stander sê vandag is sy dankbaar vir daardie voorbeeld. Haar pa het geglo as jy iets gedoen wil hê, moet jy dit self doen. Stander verskil daar van hom. Sy hou daarvan om saam met instansies en organisasies te werk.
Sy glo vas dat, deur te gee, sy baie meer terug kry as wat sy ooit kon droom. “Ek het nie altyd geld om te gee nie, maar tyd is iets wat ek graag deel,” sê sy. “Of ek nou by die Sakekamer betrokke is en of ek help om die My Skoon-Dorp-Projek ‘n werklikheid te maak, dit is vir my belangrik om dit met ‘n lied in my hart te doen. Dit is ook heerlik om as ‘n vrywilliger betrokke te wees by die weeklikse Parkun waar ons elke Saterdag ‘n heerlike tyd met deelnemers en al die vrywilligers deel.”
Een van Stander se passies is om mense ingelig te hou, ongeag of dit inwoners of besoekers aan die dorp en mooi omgewing is. Sy sê al die WhatsApp-groepe wat sy hanteer is gebore in die tyd toe die dorp ‘n waterkrisis beleef het. Sy het die burgemeester geskakel en gesê die inwoners moet ingelig word. Later het sy begin om inwoners op hoogte te hou van beurtkragtye. Sy sê omdat daar op die oomblik nie beurtkrag is nie, word daar nou baie minder gekommunikeer. Ten spyte daarvan hou sy steeds inwoners op die Sakekamer groepie ingelig oor belangrike datums, gebeure, spesiale aanbiedings, die bekendstellings van opkomende entrepreneurs. Soos onlangs toe sy daagliks weer verslae gelewer het oor die vloede, paaie wat gesluit is of gebiede wat onbegaanbaar is. Stander sê die belangrikste is die kommunikasie tussen Cederberg Munisipaliteit en die gemeenskap. Baie mense het nie sosiale media of genoeg lugtyd om gereeld op sosiale media te soek vir inligting nie en weet daarom nie altyd hoekom die krag af is of hoekom hul nie toegang tot water het nie. Sy sê dis vir haar ‘n voorreg om saam met Cederberg Munisipaliteit se kommunikasiespan en raadslede te kan werk.
Stander sê dis vir haar belangrik om altyd amptelike kommunikasie te deel. Daar is deesdae gereeld fopnuus wat deurgegee word en mense glo so maklik wat gesê en gedeel word. Stander is versigtig vir sulke inligting en lees maar ‘n tweede keer voordat sy iets op enige sosiale platforms plaas.
“As vrou glo ek daar is ‘n doel vir elke mens en as ons saamwerk, kan ons soveel meer vermag. Elke mens het sy eie unieke invloedsfeer wat God spesiaal vir jou gekies het. Elkeen het iets wat hy/sy na die span/organisasie kan bring”, sê Stander.
Sy glo deur positief te leef het mens meer energie om die mooi in ander mense te sien. “Deur heeldag en aldag te kla, gaan jy geleenthede mis. My droom is dat meer mense eerder deel van die oplossing word. Ek daag elkeen uit om betrokke te raak en ‘n verskil te maak. Al is dit hoe klein,”sê Stander.
Stander sluit af deur te sê: “Een ding wat ek van kleintyd af nie uit my kan kry nie, is om mense te groet ek groet almal, of ek hulle nou ken of nie. Wat gaan nou van jou afval as jy jou hand lig, ‘n vriendelike glimlag deel of selfs ‘n woord of drie gesels? Dit is seker maar ‘n platteland ding.”

Sanet Stander.