‘n Vrou wat nie skrik vir werk nie

Berig: Mariaan Smuts Foto: Verskaf

CITRUSDAL: Martli Slabber van Citrusdal sê hulle dorp was ‘n stortingsterrein en dat mens seker baie vingers kon wys, maar sy skryf dit toe aan die feit dat daar vir 2 km tussen die middedorp en die woongebied geen vullisdromme was nie. Mense blameer so maklik die vuil toestande waarin sommige mense leef in plaas daarvan om die mense op te hef.
Slabber sê haar lewe lank probeer sy wyer kyk en die wyer blik op die ashoop om die dorp was die afwesigheid van ‘n sanitasie infrastruktuur. Sy wonder al lank of die probleem nie aangespreek moet word nie. Toe kruis haar pad met Teresa Tierie wat voorstel dat hulle die dorp verfraai. Dit het ‘n klomp inisiatiewe laat koördineer. In ‘n japtrap het hulle toestemming en hulp gekry. ‘n Groep dorpsvroue het dromme bekom wat hulle in vullisdromme omskep en verfraai het. Dit was ‘n kwessie van projekbestuur, want daar was soveel gewillige hande, skenkers en voorstelle en hoe meer hulle tot stand gebring het, hoe gewilliger was die rolspelers in en om die dorp om te help met befondsing en insette.
Slabber sê sy dink dit help dat sy boer, dat Helene Louw van die die GPF ‘n vrou is en Tierie ‘n voorvatter koördineerder is wat al ‘n privaatskool gestig het. Ook dat Salome ‘n ongelooflike klomp energie insit met verfraaiing en Hilda Conradie ‘n afgetrede SAPD kommissaris is. Die groep bring ‘n klomp vaardighede tafel toe en met die jonger geslag vroue se energie en moderne vermoëns is dit asof hulle ‘n kragtige enjin aangeskakel het. Sy noem hulle die V8+ met die V vir vroue.
Toe Slabber haar aan ‘n omie wou voorstel antwoord hy: “Nee ek weet wie jy is. Jy is Willemartha”. Slabber het grootgeword op Citrusdal en almal ken haar geite en stories. “Ek was altyd bietjie aweregs, nooit heeltemal my plek geken nie. Toe kom boer ek in die laat tagtigs op ons familieplaas en het tot almal se ontstelling alles behalwe ingepas. Ek het geleer om op ander maniere op te tree as wat verwag word en dikwels was dit my redding. Daar is ‘n wedersydse respek en vertroue tussen my en die mense waarmee ek werk en met die manne om my kan ek oorlog toe gaan. Dit is belangrik en grotendeels danksy my boerdery ervaring,” sê Slabber.
Die SAPD begin voor hul stasie vee en Slabber spoor ‘n meganiese straatveër by ‘n besigheid op om die taak te vergemaklik. Toe die besigheid hoor van die dorp wat opgeruim word, bied hulle die masjien vir kleingeld aan. Die masjien begin nou 03:00 om die dorp skoon te maak.
Nadat die groep vroue die parkie in die dorp opgeruim het, het Sarie Frederick haar hoop uitgespreek dat iemand ook die Heuwelsig parkie kan skoonmaak en opruim. Slabber se uitdaging was: “Begin self dan sal dit uitkring.” So begin Frederick met ‘n groep opgeskote jong manne die rommel in die verwaarloosde parkie wat ‘n nes vir bosslapers en rokers was, optel. Die munisipaliteit sny die gras en Slabber begin met herstelwek aan die stukkende swaaie. Sy versoek dat die kinders help om die glasstukke op te tel. Besighede begin help met die maak van swaaie uit ou bande en hake waaraan die swaaie kan hang. Die groot werk word toe klein werkies vir instansies en present gunste ten bate van ‘n goeie saak. Toe die eerste swaai hang, begin die kinders swaai. Mettertyd word die glasstukke ook opgetel. Die gemors word na die ashoop geneem en die swaaie werk oortyd. Frederick betrek haar bure en ‘n vrou van Patrysberg Sitrus en so ruk hulle die parkie reg. Die heining word herstel en beplanning vir ‘n tuin en besproeiing is volgende aan die beurt. Met ‘n ruim skenking van Patrysberg sit hulle ‘n veiligheidskamera en speelapparate op. Baie skenkings is ontvang. Slabber sê hul meet en pas en maak planne. Deur middel van haar medeprodusente bekom sy uitskot pale van wingerde, dromme vanaf die pakhuise en vele meer.
Hulle begin met herwinning en kry ‘n oplossing vir die klomp plastiek, glas en kartonne. Die tuiniers maak steggies in plantsakkies wat die plaaslike kwekery uitgooi. Hul storie werk en is deels ‘n sukses as gevolg van sosiale media. Hoe meer hulle vertel van vrywilligers, hoe meer vrywilligers en bydraes kom by. Mooier Citrusdal is besig om te sneeubal. Slabber sê ‘n tweede honderd jaar vloed gaan nie hul momentum verwoes nie.
Mooier Citrusdal het nou ‘n span van 30 mense wat twee dae werk en rommel optel en die groep het geld om die span te betaal. Skips van die munisipaliteit word op strategiese plekke, waar die meeste rommel gestort word, geplaas. Slabber het nog baie planne in haar kop, maar haar droom is om na die seisoen die res van die informele woonbuurt ook op te ruim.
Sy sê sy moes eers haar voete vind. Sy boer al vir twintig jaar en het ‘n derde van die plaas omgeskakel na organiese boerdery en maniere uitgedink om op groot skaal kompos te maak, geleer hoe ‘n saaiboer werk sodat sy dekgewasse in die lemoenboorde kan vestig en ook haar werkers se hele woonbuurt se onderhoud en opgradering bewerkstellig. Slabber is nie ‘n vrou wat kan sit en niks doen nie. Sy sê sy vra nie meer nie, sy doen self “want vroue kan hoeka heel goed self doen.” Sy hoop alle vroue het ‘n lekker Vrouemaand gehad en dat hulle hul sterk punte begin raaksien, hulle voete neersit en nie meer onaanvaarbare gedrag oorsien nie. “Mag ons van krag tot krag gaan,” sê Slabber.

Martli Slabber.