‘n Hartjie so groot soos ‘n ertjie

Berig: Annemarie Munnik Foto: Verskaf

VREDENDAL: Gedurende Vrouemaand het Ons Kontrei gesels met vroue uit die gemeenskap wat ‘n verskil maak.
Marie van Lill (73), of tannie Marie soos baie mense haar ken, is al 30 jaar werksaam by Vredendal Apteek as verpleegsuster.
Van Lill is oorspronklik van ou Oos-Transvaal, Limpopo se wêreld, waar sy haar opleiding voltooi het. Daarna is sy weermag toe in Pretoria. Sy is verplaas na die lugmagbasis op Hoedspruit, waar sy van die eerste mense by die basis was. Van hier is sy na Phalaborwa verplaas, na ‘n infanterie-eenheid, en in 1990 verhuis sy na Vredendal.
Sy wou van kleins af ‘n suster word en tot vandag toe is sy nie spyt daaroor nie. Sy het nooit die begeerte gehad om enige ander beroep te volg nie. Van Lill vertel dit is lekker vir haar om werk toe te gaan – sy hou van wat sy doen. Al het sy “pyne en skete”, pak sy elke dag vol moed aan. Sy hou daarvan om met mense te werk.
As sy nie by die apteek is nie, is sy ‘n ma, ouma en versorger. Sy versorg haar lewensmaat se ma as sy in die aande by die huis kom. Sy noem sy het nie tyd vir stokperdjies nie, maar sy hou daarvan om in haar tuin te vroetel. Sy het ook op ‘n stadium borduur- en houtsneewerk gedoen. Sy lees graag in haar etenstyd. Van Lill is versot op liefdesverhale, sy lag as sy vertel dat misdaad- en moordverhale haar nagmerries gee. Op ‘n stadium het sy in haar vryetyd by ‘n politieke party uitgehelp en na-ure persone by hul huise versorg, maar sy het nie meer tyd daarvoor nie.
Van Lill is ‘n smartvraat; sy erken dat sy baie emosioneel is. Sy sê as ‘n pasiënt haar besoek en verlies ervaar het of ‘n hartseer storie het, sal sy sommer saam huil, al ken sy nie die persoon nie. “Hulle sê ek lyk kwaai, maar my hartjie is so groot soos ‘n ertjie.” Klein goedjies maak haar gelukkig. Sy sê dit maak haar gelukkig as sy ‘n pasiënt met ‘n wond help en sien hoe dit beter word en later genees. Dit laat haar voel sy het iets bereik.
Van Lill sê op ‘n stadium het gesondheidsorg baie vinnig begin verander, maar omdat sy nie in hospitale gewerk het nie, kon sy nie saam met dit groei nie. Sy sê daar is baie nuwe tegnologie waarvan sy nie bewus is nie. “Ek wens ek kon saam met die vinnige pas van verandering gegroei het sodat ek meer kon weet.” Sy sê die meeste van haar kennis het sy maar in die weermag opgedoen.
As sy haarself in vyf woorde kan beskryf sou sy sê: “Ek is baie saggeaard, liefdevol en ek wil net graag vir ander mense iets beteken. Dit wil ek graag doen tot ek nie eintlik meer kan nie,” vertel sy. Sy wens ook sy kon meer vir minderbevoorregtes doen. Van Lill het een kleinkind en ‘n seun. Haar dogter is ‘n paar jaar gelede oorlede.
Sy het glad nie planne vir aftree nie. Sy het altyd gesê sy gaan werk tot sy 70 jaar oud is, maar nou dink sy, sy sal aanhou tot sy 80 is.

Marie van Lill