Kom ons maak ‘n verskil en begin herwin

Berig en foto’s: Annemarie Munnik

VREDENDAL: Met die nuwe streekstortingsterrein wat vroeg in 2025 tussen Vredendal en Vanrhynsdorp in werking tree, wil die eienaars van Speckled Tortoise inwoners van Matzikama aanmoedig om te herwin. Terloops skeiding moet plaasvind voor dit na die streekstortingsterrein deur die munisipaliteit geneem word. Dit is nie ‘n unieke geval nie, inwoners in ander streke in die Wes-Kaap word al geruime tyd verplig om herwinbare en nie-herwinbare materiaal te skei voor dit weggegooi word.
Heinrich Duvenage van Speckled Tortoise noem dat inwoners nie nodig het om verskillinde dromme aan te koop om te herwin nie. Speckled Tortoise neem alles in behalwe afvalkos, mediese afval, tjipspapiere, foeliebakkies, foelie, lekkergoedpapiere, polistireen, batterye, hand-doekpapier, gloeilampe en lap. Verder kan alles herwin word.
Inwoners kan alle herwinbare materiaal in sakke gooi en dit na Speckled Tortoise neem. Daar word dit sorteer in verskillende kategorieë. Dan kry die persoon weer 2 plastieksakke gratis om te gebruik vir herwinning.
Selfs landbouprodusente kan herwin. Speckled Tortoise koop drupperpype en plastiekkratte aan. Indien landbouprodusente sekere produkte na Speckled Tortoise neem, kry hulle ‘n geakkrediteerde sertifikaat van CropLife wat vir ouditdoeleindes aangewend kan word. Die produkte sluit onder andere hoëdigtheid poliëtileen plaagdoderhouers, poliëtileen tereftalaat plaagdoderhouers, polipropileen verpakking soos sakke en dromme, staaldromme, glasbottels, aluminiumhouers, spuitkanne en papier- of kartonverpakkings in.
Speckled Tortoise koop ook staal aan. Duvenage sê hulle neem ook gebruikte motorolie in, hulle gaan haal dit by persele as dit nie afgelewer kan word nie. Dit word ook geakkrediteer onder African Green Oil Collectors. Soos met CropLife kan African Green Oil die nodige sertifikate uitreik vir ouditdoeleindes.
‘n Nuwe inisiatief wat Speckled Tortoise in die nabye toekoms gaan begin is die “Waste Pickers forum.” Ses trollies en persoonlike beskermingsklere is deur Polico geborg. Persone met ‘n wettige identiteitsdokument teken trollies soggens uit, en tel dan in die dorp in hulle verskillende areas herwinbare materiaal op wat hulle weer terugneem na Speckled Tortoise. Hierdie sisteem sal later ander sakkrappers uit die verskillende woonbuurte verwyder.
Speckled Tortoise diens tans ook besighede wat alle konfidensiële dokumente wil vernietig. Dié dokumente word onder ‘n waaksame oog met ‘n industriële masjien (shredder) versnipper.
Duvenage noem as inwoners herwin, kom sakkrappers vinnig agter dat daar niks herwinbare materiaal in die vullissakke is om te neem nie. So krap hulle later nie meer in die sakke op vullisverwyderingsdae nie.
As inwoners nou al in die gewoonte kom om te herwin sal hulle teen die tyd wat die nuwe stortingsterrein in werking tree, in gewoonte wees daarmee. “Kom ons almal werk saam en begin herwin, sodat ons ‘n skoner en veiliger omgewing vir ons nageslag kan nalaat,” aldus Duvenage.

Anichia sorteer die herwinbare materiaal.

Andre en Jean beman die kompakteerder.

Shawn by die industriële snippermasjien.

Die Speckled Tortoise span.