Berig: Mariaan Smuts
CEDERBERG: Clanwilliam in die hartjie van Rooibos en een van die tien oudste dorpe in die land, lê knus tussen twee bergreekse en is omring deur talle bergpasse. Die Pakhuispas is op die R364 in die noordelike Cederberg wat Clanwilliam met Nieuwoudtville en Calvinia verbind en ‘n direkte roete tussen die dorp en die Karoo vorm. In reënerige weer of sneeutoestande kan die Botterkloofpas baie uitdagend raak, selfs vir ‘n 4 x 4 voertuig. Die pas word seepglad in die winter en heelwat vragmotors het al daar vasgeval. Die pas daal altesaam 345 m oor ‘n afstand van 11.3 km. Die pas het waarskynlik die naam te wyte aan die groot aantal botterbome wat in die kloof groei. Dis ‘n beter opsie vir toeriste wat nie vertroud is met die pas nie om liewer met die N7 te ry.
Die Pakhuispas is baie gewild by rotsklimmers en word vir ten minste 6 maande van die jaar deur rotsklimmers van regoor die wêreld besoek. Die pas is breed en geteer, maar kan gevaarlik wees vir onervare bestuurders. Die pas is 20 km buite Clanwilliam en 25 km lank. Dit bereik ‘n hoogte van 905 m. Die pas is tussen 1875 en 1877 deur Thomas Bain met die hulp van gevangenes gebou en word as een van Bain se meesterstukke beskryf. Die pas is vir die eerste keer in die 1960’s opgradeer. In 2009 is die pas geteer. In Desember 1946 het ‘n Junkers-Ju 86 vliegtuig (SAAF 647) van die Suid-Afrikaanse Lugman in mistige weer in die Pakhuispiek neergestort en almal aan boord is dood. Die vliegtuig was van Pretoria na Kaapstad op pad met ‘n vrag laaghout. Tydens die konstruksie het Bain baie belangrike San-rotstekeninge in die gebied ontdek.
Die graf van C. Louis Leipoldt is sowat 15 km buite Clanwilliam langs die pad geleë en is ‘n gewilde toerisme attraksie. Daar is ook verskeie staproetes in die omgewing. Van die gewildste seker die staptog van die Pakhuispas na Heuningvlei of met vooraf besprekings ‘n donkiekarrit van Pakhuis tot in Heuningvlei. Die roete lê langs die ongelooflikste uitsigte vanaf die bopunt van die pas oor die Karoo. Rotsformasies is tipies van die Cederberge.
Sowat 38 km buite die dorp draai die pad suidoos na die Biedouwvallei en Wupperthal met sy ± 14 buitestasies. Die grondpad draai net na die Engelsman se Graf na regs. Die pad is nou en meestal sinkplaat. By tye is daar steil afdraande wat baie versigtig hanteer moet word. Skakel oor na ‘n laer rat om enjinkompressie te gebruik om oorverhitting van remme te verhoed. Op die roete is twee minder bekende passe, maar net so mooi. Die eerste is Hoek-se-Berg wat afdaal na Biedouwvallei; ‘n gewilde plek om veldblomme in die lente te sien. Die mees gevaarlikste draaie van dié berg is geteer aangesien dit in die winter baie modderig is en vragmotors sukkel om die pas dorp toe te klim. Van die vallei, is dit weer berg-op na Wupperthal tot op ‘n plato en dan moet die Koubergpas gesak word na die Morawiese nedersetting Wupperthal met sy ryke geskiedenis. Van Clanwilliam na Wupperthal is ongeveer 75 km.
‘n Sirkelroete kan van Clanwilliam via Wupperthal na die Cederberg Wildernis-area gery word, maar laat genoeg tyd toe om tot ten minste by Matjiesrivier te vorder, tussen 90 tot 120 minute. Akkommodasie is skaars in Eselbank. Van Wupperthal loop ‘n 4 x 4 roete of ‘n hoë voertuig roete oor Eselbankpas, ook bekend as Kerskoppas. Die pas is 10.5 km lank en op plekke baie steil. Maak reg vir ‘n geskud van links na regs. Gedeeltes van die pad is met beton gevul wat baie help met traksie. Pad word nie aanbeveel vir motors nie. Die roete het ‘n gemiddelde helling van 1:21, maar die steil gedeeltes bereik 1:5. Op dié roete is ‘n pragtige waterval en ongelooflike berglandskappe met verweerde sandsteenformasies en Rooibos-plantasies.
Van Matjiesrivier kan die roete verder deur die Cederberg voortgesit word of verder gery word om later aan te sluit by Op-die-Berg. Van Matjiesrivier kan jy links afdraai na die Kromrivierpas met 15 draaie, hoeke en kurwes waarvan 2 meer as 100 grade is. Van die plaas kan ‘n roete na Truitjieskraal met pragtige rotstekeninge gery kan word. Besoekers moet egter ‘n permit by Kromrivier kry om die pad te ry. Wanneer die hoofgrondpad tussen Clanwilliam en Ceres gesluit is as gevolg van vloede word Truitjieskraal as ontsnappingsroete gebruik.
Verder op die roete van Matjiesrivier lei die pad na Sanddrif waar daar wonderlike staproetes na die Wolfbergskeure is en ook heerlike oornaghuisies of kampeerplekke. Permitte hiervoor kan op Dwarsrivier verkry word. Verder met die roete is ‘n korter staproete na Lot se Vrou en die Maltese Kruis. Baie riviertjies moet in die winter gekruis word en baie besoekers was al in die winter in die gebied gestrand. Verderaan is die Uitkykpas wat 4.7 km lank is en die noordelike en suidelike Cederberg met mekaar verbind. Die pad is met plaveistene uitgelê. Hou jou spoed dop, want daar is ‘n paar gevaarlike draaie met onbeskermde en steil afdraandes, maar die pas bied eindelose uitsigte oor die unieke Cederberge. Aan die einde van die pas ry besoekers verby Algeria met pragtige grasbedekte kampeerplekke en verfrissende rotspoele met ysige bergwater. Besoekers kan ook die gewilde Watervalstaproete vandaar stap en verskeie permitte koop vir al die staproetes in die Cederberg. Van Algeria lei die pad direk na die 15.7 km Nieuwoudtpas, ook bekend as die Cederbergpas. Van Algeria kan besoekers tussen die berge en plase na Clanwilliam ry of via die pas aansluit op die N7.