Haarwegskloof en Kransvleipasse

Berig: Mariaan Smuts

CEDERBERG: Cederberg-omgewing is bekend vir talle bergpasse en ongerepte natuurskoon. Daar is ‘n pad tussen Citrusdal en Clanwilliam wat baie draaie loop en van meer as een kant aangepak kan word. Dit is ook ‘n lekker pad vir sirkelroetes. Vanaf die N7 by Marcuskraal draai ‘n teerpad af wat verby ‘n hele aantal plase loop. Die teerpad wat teen Haarwegskloof uitkronkel het hoofsaaklik maklike draaie en is ‘n mooi pad om te ry. Die pas is redelik kort, slegs 3.2 km en klim tot ‘n hoogte van 165 m wat ‘n gemiddelde helling van 1:19 lewer. Die pad is geskik vir alle voertuie.
By ‘n T-aansluiting kan toeriste links of regs draai. Die Elandskloof skool is reg oorkant die pad van die T-aansluiting geleë. Draai regs verby die Elandfontein plaas vir ‘n kort sirkelroete. Dié pad lei na die Kransvleikloofpas,’n grondpad van 7.8 km met ‘n aansienlike hoogteverskil van 494 m soos dit vanaf Elandsfontein deur die Kransvleikloofpas afdaal. Die pad loop langs ‘n klein rivier tussen hoë kranse deur ‘n skaduryke kloof. Die laaste gedeelte van die pad klim weer geleidelik en sak dan na die plaas Kransvlei voordat dit by die N7 aansluit. In die winter moet die pas liefs vermy word aangesien dit baie nat, glyerig en vol klippe is. Aan die bopunt van die grondpad by Elandskloof draai die Jakkalsvleipad af wat net voor Graafwater op die R364 aansluit.
Indien besoekers links by die Elandskloof skool T-aansluiting draai, is die pad net vir enkele km’s geteer tot by Khoisan Tee. Vanaf die N7 tot by Khoisan is dit ongeveer 16 km wat meestal grondpad is. Die volgende plaas op die roete is Skimmelberg waar die familie met Rooibos en buchu boer. Sowat 500 m na Skimmelberg is die Witelskloofpas. Die area staan bekend as die Sandveld van die Weskus en is bekend vir die produksie van aartappels. Draai regs en volg die R365 pad tot by Sandberg en Leipoldtville. Vandaar is die pad geteer en loop deur die dorpie Leipoldtville na die Weskus-pad of terug na Graafwater en Clanwilliam. Die grondpad is in die somer baie stowwerig en vol sandwalle en die winter so glad soos seep. Die afstand van die aansluiting tot waar die pad afdraai na Graafwater is ± 30 km. By die T- aansluiting na Witelskloof loop die pad verby Swartboskraal, die 183 hektaar sonplaas en Paleisheuwel tot by Het Kruis. By Het Kruis loop ‘n spoorpad en van daar is dit ‘n teerpad tot by die aansluiting op die N7. Daar is net selfoon opvangs naby die sonplaas, die res van die pad het geen sein nie. Op die R365 is net 3 sitrusplase, die res produseer aartappels en Rooibos.