Berig: Annemarie Munnik Foto: Verskaf
VREDENDAL: Na 40 geseënde jare, het Fanie Loubser die onderwystuig neergelê. Loubser kom uit ‘n onderwyshuis, sy ouers, broer en suster was almal onderwysers en dit het ‘n groot invloed op sy beroepskeuse gehad.
Hy het vir drie jaar in Aberdeen skoolgegee en die laaste 37 jaar by Hoërskool Vredendal. Dié skool het Vrydag, 20 Februarie een van die gange aan Loubser opgedra, wat nou bekend staan as Loubser Laan, nie net vir sy bydra tot Afrikaans in die skool nie, maar ook sy pa, Hein se bydra vanaf 1947 tot 1978.
Hy sê een van die grootste veranderinge in die onderwys die afgelope 40 jaar, is vir seker die tegnologie. Hy sê die leerders se selfvertroue het ook verander. “Hulle is baie meer bewus daarvan dat hulle ‘n stem het. Soms effens arrogant, maar so noodsaaklik.”
Loubser onthou nie meer die eerste dag wat hy voor ‘n klas gestaan het nie, maar hy onthou die eerste tyd was hy baie onseker. Hy sê ‘n graad kan nie ‘n persoon voorberei vir die werklikheid van ‘n klaskamer nie. “Dit was werklik ‘n geval van aanhou swem en kop bo hou.”
Die waardevolste deel van sy loopbaan is die feit dat hy as onderwyser menswees op so baie vlakke kon uitleef. In die klas én buite. Ook in die gemeenskap. “Dit is soos ek by my voorgangers geleer het, hoe dit moet wees. Dat ek kon skoolhou saam met besonderse mense. Kundiges wat my lewe verryk het,” aldus Loubser.
Hy dink die oomblikke wat vir hom die meeste uitstaan, was alles rondom die destydse kadetorkes. Al die kompetisies, die stap deur die strate. “Die orkes was vir my altyd baie spesiaal. Ure se harde werk met talentvolle kinders was baie bevredigend.”
Loubser sê oor die jare het hy skitterende leerders voor hom gehad. Akademies en andersins. “Kinders wat kon redeneer met insig en kennis. Kinders met ‘n eie stem. As jy bereid was om te luister, kon jy baie leer. Ek dink kinders het my gehelp om te besef dat die wêreld baie meer grys as wit en swart is.”
Die prestasie waarop hy die trotste is, is dat hy in 40 jaar nooit ‘n druipeling gehad het nie. Hy het gelukkig besef dat die sukses in matriek ver terug in die laerskool begin. Dan ook die prestasies van die orkes, WP-kampioene en drie keer na die SA’s. Dit was vir hom baie spesiaal.
Hoe het Loubser die gemeenskap deur die leerders sien verander? “Wel, wat verander het, was die “skanse van die vel” wat geval het. Dit het ons almal se oë oopgemaak vir die briljante kinders wat ons nooit voorheen geken het nie. Om te sien dat kinders grootmense word wat die dorp dryf en hulle plek behoorlik volstaan, is ook lekker. Jy weet, die skool is groot in omvang, maar daar is baie kinders wat spesiaal is wat onder die radar beweeg omdat geen skool vir elke behoefte voorsiening kan maak nie. Om dan te sien hoe daardie kind sy of haar plek in die samelewing vind en volstaan, laat jou besef dat daar waarde in ons almal is,” vertel hy.
Sy filosofie vir sy klaskamer was om met respek deur die lewe te gaan. “Ek dink ook Opperman se woorde: “gee sin aan voorgeslagte deur die eeue heen, besef jy is ‘n vegter van die begin, alleen” was ook maar altyd in my gedagtes.”
Loubser dink iemand wat passievol is oor sy vak, maar nie te slim vir die kinders nie, maak ‘n goeie onderwyser. Hy kan met eerlikheid sê dat hy lief was vir sy vak en nie te slim nie. “Om die individu in elke kind raak te sien sonder om universele waardes te laat gaan. Ek dink inkort, die lewe van ‘n onderwyser is die duisend kleure van grys, nie wit en swart nie.”
Van die uitdagings wat hom vandag in die onderwys bekommer, is dat mans al minder word. Hy sê seuns soek rolmodelle en hulle raak min. Verder onderwysers wat nie meer so maklik vir bevordering skuif nie, “want ook die vrou se werk moet vervang word. Kunsmatige intelligensie wat nie reg aangewend word nie, kan ‘n groot probleem raak. Skakel jy eie denke uit, skep jy ‘n wêreld wat onwaar is. Die feit dat die maatstaf van suksesvolle opvoeding so deur blote matriekuitslae gedryf word, is vir my ook maar hinderlik. Ek weet uitslae is belangrik, maar oor die jare het ek talle voorbeelde gesien van gemiddelde akademiese kinders wat briljant eindig omdat hulle, hulle plek gevind het.”
Hoe voel dit om af te tree? Hy sê die kol op sy maag as hy skool toe stap, is weg, “so dit is glad nie sleg nie.” Wat hy die meeste sal mis is definitief sy vak, Afrikaans Huistaal wat hy sy hele loopbaan vir graad 10 tot 12’s onderrig het. Ook die feit dat hy deel was van ‘n besonderse groep mense, kinders.
Loubser sê om eerlik te wees sien hy uit na die stilte. “Ek sal nooit enige kind wat hulp soek wegwys nie, maar ek is redelik seker my tyd in die onderwys het uitgeloop. Op Hoërskool Vredendal sal ek egter nooit my rug draai nie. Die lewe gebeur nie altyd soos ons dit wil hê nie, so ‘n mens weet nooit…”
As hy kon teruggaan in tyd, sou hy weer onderwys kies, en miskien radio as alternatief. Sy raad aan onderwysers wat nou die beroep betree: “As jy nie daar wil wees nie, loop vroeg. Twee ore en een mond. Luister baie en vind jou eie stem.”
Hoe wil Loubser onthou word; “As ek my broer mag aanhaal: “Meneer het maar net probeer.””
