Berig: Mariaan Smuts

Foto: Verskaf

CLANWILLIAM: In 1989 was daar net 5 boerbokstoettelers in die Wes-Kaap. Hulle was Ben Olivier, Japie Kruger, Joubert van der Merwe sr, Lombard van Schalkwyk, wat in 1979 geregistreer het, en Pip Nieuwoudt se pa, Rens, wat al sedert 1959 boerbokke begin teel het. Sedertdien het die getalle gegroei en met die onlangse skou wat ALG aangebied het, was daar 10 uitstallers wat 180 bokke ingeskryf het vir die Wes-Kaap Boer-bokklub Kampioenskappe. Twaalf kampioene is aangewys.
Sondag, 31 Oktober, het die boerbokklub gemeenskap met groot leedwese verneem dat Ben Olivier oorlede is. Sy dood laat beslis ‘n groot leemte in die boerbok-bedryf en hulle het ‘n goeie mentor verloor.
Ben Olivier het op 3 April 1942 die eerste lewenslig, met die hulp van ‘n vroedvrou, op Graafwater aanskou. Nadat hy matriek aan Jan van Riebeeck voltooi het, is hy na Pretoria se Weermag Leërgimnasium. Daarna het hy vir ‘n jaar op Grootfontein landbou studeer. Na afloop van sy studies het hy op die plaas Drilrivier, Agter Pakhuis, saam met sy pa, Kotzé Olivier gaan boer. Hy ontmoet vir Ester Rossouw, ‘n stadsmeisie. Die twee trou op 28 Februarie 1970 in Malmesbury. Ester moes vinnig leer hoe om ‘n boervrou te wees. Na oupa Kotzé se dood het Ben die boerdery oorgeneem.
Olivier het met boerbokke, bonsmara-beeste, merinoskape en gesaaides geboer. Hy het gedien op die Boerboktelersvereniging waar hy ‘n groot rol gespeel het. Hy was nou betrokke by die landbouverenigings en skoue landwyd. Hy was ook betrokke by die Rooivleis Produsentevereniging, die BKB en Agri Wes-Kaap. Olivier het elke jaar met die destydse jaarlikse Leipoldtfees ‘n boerbokstalletjie gehad. Daar het hulle vleis verkoop, gebraai en sommer net lekker saam gekuier. Daar was altyd ‘n toestroming van mense, of dit was om boerbok te eet of met Olivier te gesels, is ‘n ope vraag. Hy was lief vir gesels en ‘n regte terggees, maar kon ook gou op sy perdjie klim as iemand sê hul eet nie boerbok nie. Volgens hom was dit die lekkerste vleis. Olivier was lief vir mense, het ‘n liefde vir skaaphonde gehad en was gek na boeremusiek, dans en klaviermusiek. Hy het sy koffie uit ‘n piering gedrink, soos dit ‘n regte boerseun betaam.
Die egpaar het een seun, Kotzé, en drie dogters, Bella, Elbé en Hessie, asook sewe kleinkinders (vier kleinseuns en drie kleindogters).
Olivier het ‘n beroerte gehad en is op Maandag, 18 Oktober per ambulans hospitaal toe geneem. Donderdag, 21 Oktober, is hy oorgeplaas na die “step down” van Sederhof Tehuis vir Bejaardes. Sedert Donderdag, 28 Oktober, het hy vinnig verswak en is op Sondag, 31 Oktober om 12:28 oorlede.
Olivier word Saterdag, 13 November, om 10:00 op die plaas Drilrivier in die familiekerkhof begrawe. Sy gedenkdiens vind om 12:00 vanuit die NG Kerk op Clanwilliam plaas.