Berig: Annemarie Munnik
Foto: Verskaf

VREDENDAL: Dokter Leonore Watts het haar in 2004 in Vredendal kom vestig.
Sedert haar hoërskooljare het sy baie in die mediese rigting belanggestel, maar het eers in matriek besluit om aansoek te doen om medies te studeer. Sy onthou dit nog soos gister toe sy die brief in die pos ontvang het waarin sy aanvaar is. Van daar was daar geen twyfel in dit wat sy wil doen nie.
Watts het in Stellenbosch grootgeword en matrikuleer aan Hoërskool Stellenbosch. Haar pa was ‘n dosent aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy voel sy was baie bevoorreg om in so ‘n omgewing groot te word. Sy voltooi haar studies aan die Universiteit van Stellenbosch Tygerberg kampus. Daarna doen sy haar internskap in Bloemfontein. Van hieraf is sy weer na Elsiesrivier om haar gemeenskapsjaar te doen. Daarna vestig sy haar in Vredendal.
In 2003 trou sy met Christo Lombard, ‘n tandarts. Tans praktiseer hul uit dieselfde gebou. Uit die huwelik is twee kinders gebore, Jeandre in graad 7 en Elana in graad 5.
Soos met enige ander beroep het Watts al vele uitdagings gehad. “My grootste uitdaging was om ‘n gevestigde dokter in Vredendal te word. Dit het baie jare geneem en in die beginjare het ek baie beleef dat mense hierdie jong vrouedoktertjie eers bietjie wou uitkyk,” noem sy.
Sy het met haar aankoms in Vredendal nie baie opsies gehad nie, privaat praktyk was die enigste uitweg. Sy het begin om in ‘n praktyk te werk tot sy 8 jaar later haar eie praktyk kon begin. Sy het wel deeltyds in Vredendal Hospitaal gewerk en later jare narkose begin toedien.
Haar grootste mylpaal in haar loopbaan, is haar praktyk wat sy van die grond af opgebou het. Sy kan 10 jaar later met dankbaarheid terugkyk. “Dit het soms bloedsweet en trane gekos, maar ek glo niks kom sonder harde werk en deursettingsvermoë nie,” aldus Watts.
Watts streef daarna om kwaliteit diens in haar praktyk te lewer, eerder as kwantiteit. Sy bestee graag meer tyd om ‘n omvattende diens aan die pasiënt te bied, eerder as om bloot net die primêre probleem aan te spreek. Sy streef ook daarna om elke pasiënt met respek en deernis te behandel, maak nie saak wie dit is nie.
Daar was al soveel snaakse en ook hartseer oomblikke in haar loopbaan gewees. “Daar was ‘n pasiënt by my en toe ons gesels oor ‘n verwysing na ‘n spesialis in die Kaap, sê sy vir my: “My kind, daai spesialiste is nie slimmer as julle nie, hulle het net al die masjiene!”” Hierdie wyse sêding bly haar by. Sy noem dat plattelandse dokters ander uitdagings het, en hul moet meer op kliniese vaardighede staatmaak as op spesiale ondersoeke.
In haar vrye tyd spandeer sy graag tyd saam met haar gesin by die huis. Sy noem dat hul gesin baie lief is vir die natuur en die buitelewe. Hulle gaan kamp graag in die Kgalagadi of enige plek in die natuur waar hulle kan stil raak. Watts is ook lief vir kosmaak en bak. Sy het ook reeds ‘n aantal marathons voltooi. Sy is eerlik as sy sê dat dit tyd geneem het om ‘n balans tussen werk en haar gesin te vind. Sy sukkel nog soms daarmee. “Gelukkig het ek ‘n wonderlike ondersteunende gesin wat by die huis dinge kon laat gebeur wanneer ek moes werk. Ek het onlangs ‘n paar aanpassings gemaak om meer tyd vir my kinders te kan gee, hulle bly my eerste prioriteit,” sluit sy af.
Haar raad aan jonger mense wat medies oorweeg, is om hard te werk akademies, maar ook om te besluit of hul passie by mense sal wees, “anders gaan dit ‘n moeilike pad wees om te stap. Dit is egter ‘n wonderlike rigting met soveel opsies en ‘n baie bevredigende beroep om te beoefen,” sê sy.

Dokter Leonore Watts.