Berig: Emma Boonzaier

Foto: Verskaf

LAMBERTSBAAI: ‘n Groep vriende het Donderdag, 27 Januarie ‘n skool tornyne, ook bekend as bruinvisse, naby die hawe opgemerk. De Villiers Uys, Hansen van Zyl en Helen Nel was by Uys se huis toe hulle die tornyne gewaar. Daarna het hulle middagete gaan eet by ‘n klein restaurant, wat op die see uitkyk. Terwyl hulle geëet het, het hulle opgelet dat 3 tornyne weggebreek het van die skool en gevaarlik vlak geswem het. Die groep het afgestap na die hawe en gesien die seediere is in die moeilikheid en het toe ingespring om te help.
Uys is ‘n plaaslike inwoner en visvanggids in onder andere, Maleisië, Angola en die Oranjerivier. Met sy kennis van seediere het hy besef dat hulle die diere baie versigtig moet hanteer. “ ‘n Persoon kan nie ‘n tornyn aan sy stert optel of trek nie, want jy kan sy ruggraat beskadig. Jy kan hulle ook nie rondom hulle maag optel nie, aangesien hulle nie gewoond is aan aantrekkingskrag buite die water nie en jy kan dan hulle organe beskadig,” het Uys gesê. Hy en Van Zyl het toe voortgegaan om die diere in die water te hou en met behulp van die branders terug te stoot na veilige waters. Hierdie taak is fisies baie moeilik. Een tornyn weeg omtrent 60 kilogram. Nel wat nie oor die fisiese krag beskik het om te help nie, het wel die hele gebeurtenis op haar kamera vasgevang. Teen die volgende dag was die beeldmateriaal wyd versprei oor sosiale media.
Baie kykers het op dié video kommentaar gelewer en gesê dat die laaste tornyn besig is om te versmoor omdat dit so lank buite die water was. Uys verduidelik dat hierdie kommentaar heeltemal ongegrond is. “’n Tornyn, net soos ‘n walvis, het longe in plaas van kieue. Hulle kan buite die water asemhaal. Hulle moet net nat bly en nie te lank in die son wees nie.” Die hele reddingspoging het 20 minute geduur totdat die diere weer veilig in die dieper water was.
Van Zyl, ‘n Vredendaller wat net vir die dag gaan kuier het, vertel die twee tornyne wat gered is, wou heeltyd terugkeer na die derde een. Die mans het hulle taktiek toe verander. “Ek het die twee wat reeds gered is na dieper water gehelp terwyl Uys die laaste tornyn gered het,” sê Van Zyl. Toe die laaste tornyn by die ander aansluit, het hy kliek-kliek geluidjies gemaak, vermoedelik om dankie te sê. “Die ou kon maar vir ons ‘n kreef ook gebring het,” spot Van Zyl.
“Ons was maar net op die regte tyd op die regte plek,” aldus Uys.