Berig en foto: Emma Boonzaier

VREDENDAL: Meeste mense soek hulle lewe lank na wat hul roeping op aarde is, en dan is daar ‘n handjievol persone wat van kleins af reeds die antwoord het. Anro-Mari Cohen is een van hierdie gelukkige persone. Vir Cohen was daar van kleintyd af net twee dinge – ‘n ma en ‘n fisioterapeut. Vandag bestuur sy haar eie praktyk en is die ma van vier dogtertjies tussen die ouderdomme van 1 en 7 jaar. Haar hande mag dalk vol wees, maar haar interne dryfkrag help haar kop bo water hou.
Cohen het in Vanrhynsdorp grootgeword en skoolgegaan. Sy het uit ‘n matriekklas gestap van 14 leerders en ‘n universiteitsklas ingestap met oor die 300 studente. Die oorgang was bietjie skrikwekkend aan die begin, maar Cohen het vinnig gewoond geraak daaraan en dit as ‘n geleentheid gesien om uit haar gemaksone te ontsnap. “Dit wys jou net dat ‘n mens hoef nie terug te staan vir groot skole nie,” sê sy. In 2012 het sy haar graad ontvang. Dit is ook die jaar wat sy getroud is. “Soos almal anders van die area, het ons ook mekaar op Strandfontein ontmoet,” vertel sy laggend. Hy is ‘n plaaslike landbouprodusent wat gehelp het dat sy in Vredendal geplaas word vir haar diensjaar.
Gedurende skoolvakansies het Cohen by ‘n ander fisioterapeut van Vredendal, Elna Esterhuyse skaduwerk gedoen om meer te leer oor die beroep. Na haar diensjaar het sy by Esterhuyse begin werk en sien haar vandag as een van haar rolmodelle.
Na baie gesukkel, het sy haar eie praktyk begin. “Ek het aan die begin nie geweet hoe om my eie praktyk te bestuur nie. Ek het niks geweet van mediese fondse nie. Syfers en administratiewe take was nog nooit my sterkpunt nie, maar ek is verlief op my werk. Ek was nog altyd gefassineer deur die menslike liggaam. Die feit dat nie een dag dieselfde is nie, maak my gelukkig,” sê Cohen.
Mense het soms ‘n wanpersepsie van fisioterapie. Sommiges dink dat die probleem waarmee hulle dalk al vir jare sit, in een sessie sal verdwyn. Ander glo weer dat die fisioterapeut nie kan wag om jou te martel nie. Hierdie stellings is onwaar. ‘n Fisioterapeut help jou op die regte pad na herstel.
Cohen, wat haarself as ‘n introvert beskou, is lief vir die buitelewe. Sy hou van fietsry en stap saam met haar gesin. Sy geniet ook musiek luister en lees – as sy tyd kry.
Hierdie jong ma van 4 kinders gaan nog groot hoogtes bereik.

Anro-Mari Cohen