Berig: Annemarie Munnik
Foto: Verskaf

VREDENDAL: Dominee Jan Theron (35) en sy vrou Michelle het op 1 Mei by die NG Gemeente Vredendal in die plek van dominee Nico Viljoen aangesluit.
Theron het sy studies aan die Noordwes Universiteit begin, waarna hy dit aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi het. Hy het sy gemeentejaar in Gqeberha by die studentebediening begin, waarna hy dit in Bloemfontein voltooi het. Hy noem dat hy gedurende sy eerstejaar besef het dat BCom nie die regte rigting vir hom is nie. In sy tweedejaar het hy na Teologie verander, en was nooit spyt nie. “Hoekom ‘n dominee, hoekom nie?” lag hy. Hy het die beroep gekies, omdat hy nog altyd ‘n liefde vir die NG kerk gehad het omdat hy in een grootgeword het. Hy noem dat die Here nog altyd saam met hom die pad gestap het. “Enige beroep is ‘n roeping,”sê Theron.
Theron, oorspronklik van Reitz, is eers na Caledon beroep waarna hy na Windhoek beroep is, vandaar het hy en sy vrou na Vredendal verhuis. Theron se oupa-hulle, Jan en Liena de Waal het jare lank in Vredendal en toe Vanrhynsdorp gewoon, waar hy as kind saam met sy ouers vakansies deur gebring het. Hy noem dat dit nou baie anders is, as wat hy dit geken het.
Hoekom Vredendal? Hy en sy vrou het gekyk na die platteland, omdat hy die platteland ken. Hy noem dat hy albei wêrelde beleef het, ‘n stad soos Windhoek en dan die kleiner dorpies. Hy dink dat Vredendal ‘n goeie plattelandse dorp is, en dat dié gemeente ‘n mooi gemeente is, een wat gevestig en aktief is. “Inwoners het ‘n goeie hart vir die kerk en mekaar,” aldus Theron. Die omgewing het ook baie om te bied, nie net is dit naby die see nie, maar ook na aan die berge. Die platteland bied vir die Theron-egpaar ‘n baie goeie kwaliteit lewe, “dis baie rustiger en baie meer intiem.” Wat Vredendal vir hom uniek maak, is die landbougemeenskap, omdat hy dit ken. “Dis ‘n wonderlike voorreg om landbouprodusente te bedien,” noem hy. Die ander uniekheid is die uiterstes wat die dorp betref. Soos die landbouprodusente teen die kanaalskema en dié verder van die skema. “In die uiterstes vind mens ewewig, en ek hoop die kerk kan dit bring. Waar almal iets bring, is meer as genoeg.”
Hy noem dat ‘n verhouding met sy gemeente nog altyd vir hom belangrik was. Hulle sien hom op die preekstoel, maar weet nie wie hy werklik is nie. Hier kan hy by die gemeentelede uitkom. Hier is meer geleentheid om naby aan die dorp en die mense te beweeg om hulle te bedien.
Theron wil eers die ritme van die gemeente en gemeenskap leer ken, voor hy enige positiewe veranderinge oorweeg. Hy noem dat daar ‘n groot behoefte vir mense is om op sosiale vlak bymekaar te kom. Van sy idees is om weer gemeentekampe terug te bring. Hy fokus graag op gesinsontwikkeling en ouerskap. Hy sê dat hulle besig is om strukture daar rondom te bou, om ouers te help om hul kinders te bedien. As mens volgens Theron familiebediening kan vestig, dan funksioneer ouer en jonger mense baie nader aan mekaar, en so ook om huisgodsdiens weer te normaliser. “Konserwatief is nog altyd ‘n moeilike begrip, maar ek was nog altyd mal oor die woord. Ons “conserve” wat vir ons belangrik is. Konserwatief moet nuwe vlerke kry, mens moet mens se wortels verstaan, maar ons moet dit nuwe vlerke gee. Dis nodig vir die kerk om te help met die proses.” Bybelstudie was ook nog altyd vir hom ‘n mooi beginsel. Hierdie aspekte kort net nuwe herlewewing.
Theron noem ook dat hy graag meer betrokke wil raak by Onse Kaia en saam met hulle wil werk om so die haweloses te help. Hy sien uit na sy bediening en wat die omgewing vir hulle kan bied.

Dominee Jan Theron en sy vrou, Michelle met hul troudag.