Berig: Leensie Lötter en Annemarie Munnik
Foto: Llwellon Wagenaar

VREDENDAL: Sommige inwoners van Vredendal is Sondagoggend, 29 Mei uit hul beddens wakker geruk toe Vredendal Hospitaal se brandsirene en ontruimingsroep afgegaan het. Personeel en pasiënte by dié hospitaal is Sondag tydelik uit dié fasiliteit ontruim weens ‘n brand wat om 03:45 uitgebreek het. Geen beserings is aangemeld nie en die oorsaak van die brand word ondersoek.
Die plaaslike brand- en reddingsdienste het omstreeks 03:50 op die toneel arriveer. In ooreenstemming met die hospitaal se brandnoodplan is alle sale en die noodsentrum ontruim. Pasiënte by saal A & C en die noodsentrum kon na die sale teruggekeer nadat dit veilig vir besetting deur brand- en reddingsdienste verklaar is. Pasiënte wat in saal B behandel is, sal nou in ‘n nuut opgeknapte saal by die hospitaal gehuisves word wat nie deur die brand geraak is nie.
Die Weskusdistrikbestuurspan is Sondag van die brand in kennis gestel en het gehelp met die veilige ontruiming van alle pasiënte en personeel. Oorplasing van pasiënte na ander fasiliteite was nie op daardie stadium nodig nie. Indien pasiënte oorplasings na ander fasiliteite sou benodig weens die brand en die daaropvolgende verlies van beddens, sal die families van hierdie pasiënte deur die hospitaalbestuur gekontak word om hulle op hoogte te hou. Enige navrae rakende pasiënte kan na die hospitaal by 027 213 2039 verwys word.
Inwoners van Matzikama-subdistrik wat noodsorg benodig, kan steeds na die hospitaal vir bystand gaan. Die noodsentrum is nie deur die brand geraak nie en normale nooddienste gaan voort.
Die omvang van die skade wat deur die brand veroorsaak is, sal deur die onderskeie owerhede ondersoek word en ‘n tydraamwerk vir die herstelwerk sal daarvolgens vasgestel en gekommunikeer word. Die oorsaak van die brand sal deur plaaslike owerhede bevestig word hangende ‘n amptelike ondersoek.
Die hospitaalbestuur bedank die plaaslike brandweer- en reddingsdienste vir hul vinnige reaksie en alle personeel en pasiënte vir hul samewerking tydens die ontruiming van die fasiliteit. Die hospitaalbestuur vra om verskoning vir die ongerief wat deur die ontruiming veroorsaak is.
Dokter Elbie Burner, was tydens die voorval die senior dokter aan diens, saam met dokter Christel van Tonder van Vredendal Hospitaal en haar man dokter Cornelius van Tonder van Clanwilliam. Dokter Van Tonder het eerste die brandweer gekontak terwyl dokter Burner haar man, Benjamin gekontak het. Hy en sy broer, Johnathan was toevallig nog in die omgewing en het hul dadelik na die hospitaal gehaas. Hulle was voor die brandweer op die toneel. Volgens Benjamin was die personeel se reaksietyd flink gewees, en hulle het die noodplan presies gevolg. Benjamin sê toe hulle daar aankom was die meeste pasiënte reeds ontruim. Hy en sy broer het ingegaan en persone in die dik rook gewys waar die nooduitgange is. Hy noem dat hy weet hoe lyk die hospitaal binne, maar dit was verskriklik moeilik om in die rook rond te beweeg, omdat die rook jou asem wegslaan. “Dit voel of daar wol in jou mond is, dit klink of jy onder water is,” sê hy. Met die soek na persone binne die hospitaal, het hulle die oorsprong van die brand gevind. Hulle het die vuur met ‘n brandblusser geblus. Die brandweerdienste was kort op hul hakke om die smeulende vuur verder te blus. Die brandweer noem dat die rook baie dik was, maar hul kon maklik die res van die smeulende materiaal blus. Benjamin sê hul kon nie verby die vertrek waar die brand ontstaan het gaan nie, omdat dit te warm was. Hy sê kaptein Francios Bothma van Vredendal SAPD was ook ‘n superster, want hy het sonder die nodige beskermende klere saam met die brandweer ingegaan om die persone wat agter die vlamme was, na veiligheid te neem. Volgens hom het Anina Balie van die nooddienste vinnig reageer toe sy met haar brandbestrydingstoerusting ook ingegaan het. Die Burner broers het in die rook ‘n deur afgeskop om asem te kry. Heel toevallig was daar ‘n wasbak met lappe gewees wat hul kon gebruik om hul monde toe te maak en verder te beweeg. “Enige brandende gebou is “spooky”, maar ‘n brandende hospitaal is ekstra “spooky”, en die alarm skree heeltyd in jou ore.”
Die personeel het gehelp om die pasiënte so gou as moontlik uit die reën in Saal D te kry. Dié saal is ‘n nuwe saal wat apart van die res van die hospitaal staan. Benjamin sê dis angswekkend om te besef hoe vinnig ‘n brand versprei. Die vuur was volgens hom nooit die gevaar gewees nie, eerder die rook. Hy sê as hy ‘n keuse gehad het, sou hy nooit weer so iets wou beleef nie. Hy haal sy hoed af vir brandweermanne wat daagliks sulke situasies moet trotseer.
Die brandweer het die vuur geblus en daarna toerusting gebruik om die rook uit die hospitaal te trek. Volgens die brandweer het die hospitaal brand, rook en waterskade opgedoen.
Wes-Kaap se minister van gesondheid Normafrench Mbombo het Vredendal Hospitaal Woensdag, 1 Junie besoek.

Skade wat die brand in Vredendal Hospitaal aangerig het.