Berig: Mariaan Smuts

Foto: Oakpics

CITRUSDAL: Die Rooibos2 Muisbos bergfietswedren het Saterdag, 20 November plaasgevind. Die 105km rit is ‘n tydbeperkingsbyeenkoms en het ‘n totale elevasie (hoogte) van 1 100 meter. Die beginpunt is by die Carmien Teefabriek te Bergendal, op die Paleisheuwelpad in die Piekenierskloofpas. Carmien Tee is ook die hoofborg van die jaarlikse bergfietsrit. Die skilderagtige roete gaan oor baie plase in privaat besit en is nie tegnies nie, maar word aanbeveel vir die ervare langafstandryers. Dit is geskik vir berg-, gruis- en e-fietse. By die 70km merk sluit dit by die 35km roete by Graafwater aan. Daar is 4 waterpunte op die pad.
Die 35km rit het in Graafwater by die Graafwater Spesiale Skool begin en geëindig in Lambertsbaai. Die kort roete is ‘n relatief maklike roete vir berg-, gruis- en e-fietse. Die roete gaan deur 28 private plase, elk met sy eie unieke geskiedenis. Die roete is nie-tegnies en geskik vir die beginners en meer intermediêre ryers met ‘n basiese vlak van fiksheid.
Die roete volg die oorspronklike grondpad tussen Graafwater en Lambertsbaai en het ‘n elevasie van slegs 140 meter. Daar is een waterpunt op die roete en een by die einde. Die roete is ook die laaste skof van die 105km rit en eindig by die Malkoppan Karavaanpark in Lambertsbaai.
Die begin van die 105km rit is amptelik om 07:00 deur doktor Ruben Richards, nuwe uitvoerende burgemeester van Cederberg Munisipaliteit, geopen.
‘n Totaal van 880 fietsryers het deelgeneem waarvan 501 aan die 105km roete en 379 aan die 35km roete deelgeneem het. Die manswenner van die 105km roete was Theuns van der Bank en die dames-wenner, vir die tweede jaar in ‘n ry, was Marzhan Theart.