Berig: Mariaan Smuts

CLANWILLIAM: Adjudantoffisier Pieter le Roux het Sondag, 19 Junie om 14:42 ‘n oproep ontvang van ‘n ongeluk by die sportgronde in Parkstraat. Volgens die inligting het ‘n sokkerpaal op ‘n seun se kop geval en hom gedood.
Alle rolspelers is ontbied. Die toneel is besoek en ‘n 10-jarige seun is op die toneel aangetref. Hy het op die sokkerveld op sy rug gelê met ‘n wond aan sy kop.
Volgens sy vriende het hulle by die sportgronde gaan speel. Hulle het op die sokkerveld gespeel waar hul gespring het om aan die doelhok se dwarspaal te swaai. Omdat die oorledene die kortste van die kinders was, kon hy nie hoog genoeg spring om die paal by te kom nie en het een van sy maats gevra om hom op te lig sodat hy ook aan die paal kon swaai. Terwyl hy aan die paal geswaai het, het die doelhok omgeval en die paal het hom op sy kop getref.
Na die ongeluk het sy vriende blykbaar gehardloop om hulp te ontbied. Die nooddienste het die seun op die toneel dood verklaar. Sersant Bocks van die vingerafdruk-eenheid van Vredendal was ook op die toneel om foto’s te neem. Forensies het Caylem Fortuin na Vredendal geneem vir ‘n nadoodse ondersoek.
Caylem was ‘n graad 5 leerder aan Sederberg Primêre Skool op die dorp.
Speurder-sersant Abé Koopman het die dossier ontvang en ondersoek die saak verder.