Berig en foto: Verskaf

VREDENDAL: Dokter Anna Louw, ‘n merkwaardige vrou, mediese dokter, algemene sielkundige, huweliksberader, vriendin, liefdadigheidsleier, moeder, ouma en ‘n vrou wat diepspore in Vredendal se gemeenskap getrap het, is Donderdagaand, 28 April op die rype ouderdom van 99 jaar en 10 maande in die teenwoordigheid haar drie seuns en kleinkinders oorlede.
Louw (getroud Roux) is op 21 Junie 1922 op Somerset-Wes gebore, sy was die oudste van ses kinders. Sy word oorleef deur haar twee susters, Sophie Malan en Truida Joubert.
Sy matrikuleer aan die Hottentots Holland Hoërskool in Somerset-Wes, daarna stueer sy medies aan die Universiteit van Kaapstad en ontmoet reeds in haar eerste jaar, haar eggenoot, John Hunter Joubert (Tos) Roux. Die paartjie was onafskeidbaar. Nadat hul hul studies en hospitaaljare voltooi het, trou hulle en kom vestig hul in Vredendal. Hulle koop die huis en praktyk van dokter Blom.
Dokter Roux en Louw het meer as 40 jaar aktief gepraktiseer en eers op die ouderdom van 70 jaar die tuig neergelê. Roux raak kort na hul aftrede siek. Hy sterf op 16 November 1993. Hierdie gebeurtenis het Louw baie hartseer gelaat. Skielik was al hul toekomsplanne om saam te reis en mekaar te geniet, weg. Hulle het hul lewe gewy aan die sorge van ander mense en het baie aande dwarsdeur gewerk. Baie van hul vakansies moes gekanselleer word as gevolg van ‘n pasiënt wat geboorte moes skenk. Juis daarom het hulle sò na hul aftrede uitgesien.
Louw was ‘n persoon wat “haar tyd op aarde ten volle benut het.” So lui een van die vele mooi boodskappe wat haar kinders ontvang het. Sy was lief vir die natuur, blomme en tuinmaak. Sy was die eerste persoon in Vredendal wat haar hele groen lushof van ‘n tuin omskep het in ‘n omgewingsvriendelike vetplanttuin om haar deel vir waterbesparing by te dra. Haar huismense het geweet dat sy nie hou van skoonmaakmiddels wat die natuur en osoonlaag vernietig nie.
Dokter Louw was iemand wat altyd besig was met een of ander boek oor geskiedenis en was altyd op hoogte van alles wat in die plaaslike nuus gebeur, asook wêreldgebeure. Sy het elke dag haar koerante gelees tot en met enkele weke voor haar afsterwe. Verder was haar hande nooit ooit stil op haar skoot nie. Sy was altyd besig om te brei of te werk aan een of ander naaldwerkstuk. Sy het ook feitlik al haar eie klere self gemaak. Haar seuns het amper jaarliks elkeen ‘n nuwe gebreide trui ontvang. Soms het sy haar seuns se figure onderskat en was die truie ietwat aan die kort kant, maar jy sou nooit hoor dat hulle daaroor kla of nie die truie om daardie rede sou dra nie.
Haar man en haar kinders was vir haar baie kosbaar. Sy wou elkeen net die heel beste gee. Haar dogter, Nina se seldsame siekte van 6 jaar en haar afsterwe daarna, was vir Louw ‘n geweldige slag. Nina was nie net haar dogter nie, maar ook haar beste vriendin. Maar soos met soveel ander dinge in haar lewe, het sy voortgegaan met haar diensbaarheid aan die gemeenskap. Sy het saam met ‘n paar vriendinne die Dienskring voortgesit en sodoende kos aan talle huishoudings wat dit broodnodig gehad het verskaf. Louw het saam met ‘n groep ander dames papier herwin om sodoende fondse in te samel om weer kos te koop vir behoeftige gesinne. Daar was ook ‘n klerebank wat vir menige gesinne klere voorsien het.
Vredendal Tehuis vir Bejaardes het haar na aan die hart gelê en sy was vir baie jare op die beheerraad. Sy het ook weekliks die tehuis besoek om gratis mediese dienste te lewer.
Intussen het sy ses kleindogters en een kleinseun en een agterkleindogter ryker geword. Dit was vir haar veral verblydend dat haar een kleindogter en naamgenoot, ook as mediese dokter kwalifiseer het, en haar onlangs op Vredendal as algemene praktisyn kom vestig het.
Sy was geweldig trots op haar kleinkinders en het elkeen se grootwordjare direk ervaar en hul naskoolse opleiding met groot belangstelling tot die einde gevolg.
Daar was ‘n tyd wat haar seuns gevoel het Louw moet nie meer self haar motor bestuur nie. Dit het natuurlik glad nie goed afgegaan nie. Sy het ‘n motorbestuurder gehad en soms het sy en ‘n vriendin net saam met die motorbestuurder gery tot waar sy seker was ‘n kind kon haar nie sien nie, dan het hulle die motorbestuurder laat uitklim en hom huis toe gestuur en dan het sy self agter die stuur ingeklim en hulle het lekker rustig iewers gaan eet of gaan kuier.
Met hulle koms na Vredendal was hier nog geen munisipaliteit of enige werklike dorpuitleg nie. Vanrhynsdorp was nog die hoofdorp. Sy was betrokke by die VLV, die
Voortrekkers en sy het saam met haar man gewerk om Suster de Kock by te staan met die vestiging van die eerste kliniek, wat in 1951 vervang is met die bestaande Vredendal Hospitaal. Sy was ook deel van die Vredendal Burgerlike Beskermingsorganisasie wat in 1975 gestig is.
Verder was Louw ‘n stigterslid van die Dienskring wat enkele jare gelede oorgeneem is deur Helpende Hand en sy was die oudste lid van Helpende Hand.
Louw het seker meer babas as enige ander plattelandse dokter nog ooit gevang. Sy het ook die algemene narkose toegedien vir dokter Roux met talle operasies. Louw het waarlik ‘n vol lewe geleef en laat ‘n groot leemte nie net by haar gesin nie, maar ook in die medieseveld en Vredendal-omgewing.

Dokter Anna Louw is op die rype ouderdom van 99 jaar en 10 maande oorlede.